Die student van die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) wat as vermis en vermoedelik ontvoer in Bloemfontein aangemeld is, is veilig en ongedeerd gevind.
“Liqhame Tshaka is as vermis aangemeld, nadat haar ma onsuksesvol probeer het om haar op haar selfoon te kontak,” sê Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
Die Parkweg-polisie het vroeër hulp versoek om ’n wit Renault Sandero met onbekende registrasienommers op te spoor. “Hierdie voertuig is na bewering gebruik in die vermoedelike ontvoering van Tshaka.”
‘Lede van die E2- (Oë & Ore) Projek is ook versoek om te help’
Voertuig was geparkeer in President Brandstraat naby die Bloemfonteinse landdroshof en het die gebied omstreeks 01:40 verlaat. Lede van die E2- (Oë & Ore) Projek is ook versoek om te help met die opsporing van die geïdentifiseerde motorvoertuig.
Tshaka is herenig met haar familie en is veilig terug op die kampus.
’n Agttienjarige van Thabong, Welkom, is ook Maandag (5/8) herenig met haar gesin nadat sy as vermis aangemeld is deur haar ma.
‘Toe sy terugkom, het sy gevind dat haar dogter nie daar was nie’
Nnana Lizzy het na die Thabong-polisiekantoor gekom om aan te meld dat haar dogter, Relebohile Mokati (18), tuis was toe sy op 27 Julie om 06:40 ’n begrafnis bygewoon het, sê Stephen Thakeng, Vrystaatse polisiewoordvoerder.
“Toe sy om 18:15 terugkom, het sy gevind dat haar dogter nie daar was nie. Sy het haar kêrel gevra waar sy is, en hy het verduidelik dat Relebohile vir hom gesê het sy gaan haar tradisionele geneser besoek.”
Albei tieners se vermistepersoonsake is gesluit.