SUT maak met nuwe breiers Varsityskild-aanslag

0
SUT maak met nuwe breiers Varsityskild-aanslag

GEORG VAN ECK

Die Ixias van SUT gaan hul aanslag ENB Varsityskild in die uitdagende studenterugbyreeks met nuwe besems begin.
Die Ixias van SUT se gesoute en suksesvolle afrigtingspan, Theuns Hanekom en Thys Nel, het hul uittrede ná vyf suksesvolle seisoene aangekondig en die nuwe afrigters, Skillie Bester en Jan du Toit, is ná die jaarvergadering van die SUT Rugbyklub aangekondig.
Onder Hanekom en Nel se leiding het Ixias die ENB Varsityskild in 2011 asook vroeër Vrystaat se gesogte Stadsbeker verower. Vanjaar was Ixias weer in die eindstryd om die ENB Varsityskild-reeks betrokke waar die span net-net teen Wits vasgeval het.
Ixias is sedert die begin van die reeks om die ENB Varsityskild een van die toonaangewende spanne.
Bester en Du Toit is bewese afrigters. Du Toit het met groot sukses die Shimlas en Oud-Greys afgerig, terwyl Bester vanjaar met Murray Hofmeyr die naasbeste span van SUT, Tjisas, afgerig het. Die Tjisas het in hul eerste jaar in Vrystaat se Stadsbeker- en Rowanbekerliga die Rowanbeker verower.
Op die jaarvergadering van SUT Rugbyklub is bykans die hele bestuur onveranderd herkies. Die voormalige provinsiale rugbyspeler en afrigter van die Ixias, André Pawson, is die nuwe ondervoorsitter in die plek van Deon Venter, wat bedank het. Hy sal die voorsitter, Lou Niewoudt, bystaan.
Die vergadering is ook deur die president en adjunk-president, Lindsay Mould en Cedric Carson, bygewoon. Mould het die klub bedank vir hul groot bydra tot Vrystaat-Cheetah rugby.
Vier spelers is ook vir hul spel en bydrae tot die klub vereer. Callie Wegner, slot van die Vrystaat-Cheetahs se Curriebeker- en o.21-span, is een van die sowat 40 spelers wat SUT vanjaar aan provinsiale spanne in die Vrystaat gelewer het. Hy is as die Speler van die Jaar aangewys.
Ryno Nienaber is Klubman van die Jaar. Dean Kauprihanoff is aangewys as die Beste Nuweling van die Jaar en Meyer van Tonder die Beste Eerstejaarspeler.
Ixias speel in hul eerste ENB Varsitybeker-wedstryd van die nuwe jaar op 28 Januarie teen die span van die Universteit van die Wes-Kaap in die SUT-stadion in Bloemfontein.
Volgens Bester is die spelers reeds volstoom besig om voor te berei vir die nuwe uitdagings.

No posts to display