SUT klop UJ weer!

0
504
Die SUT reserwes vier Zac Bester se drie teen FNB UJ. FOTO: HANNES NAUDÉ/ASEM ENGAGE

Die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) het Maandagaand teen die Universiteit van Johannesburg (UJ) op Tokkiepark uitgedraf. Die span van Bloemfontein is onoorwonne teen UJ sedert 2019, en het gehoop om hul rekord te handhaaf.

In die eerste helfte van die wedstyd het die Ixias se verdedigingskrag die “Orange Army” op meer as een geleentheid van die doellyn weggehou. Op die aanval het die SUT die meeste gemaak van die UJ se swak dissipline, en het hulle danksy Juan Smith se skopwerk met ses punte voorgeloop.

Die eerste drie van die wedstryd is deur die SUT se blitsvinnige fleuel, Zac Bester, gedruk nadat hy met sy vinnige voete ligte werk van die UJ se agterlyn gemaak het.

Vroeg in die tweede helfte het die wedstryd gelyk asof dit verby was, toe die tuisspan met 20 punte voorgeloop het ná ’n sewe-punt drie deur Adielson Gouveia.

Nie lank nadat die SUT se sewe-punt drie gedruk is nie, het UJ hul eie sewe-punt drie gehad deur hul fleuel Prince Nkabinde. Die spoed van die wedstryd het so aangehou, en die span van Johannesburg het twee verdere drieë by hul telling gevoeg.

Die eindtelling was 23-19 in die tuisspan se guns, en hul streekoorwinnings teen UJ strek tot in sy vyfde jaar.

SUT se kaptein, Janco Cloete, is ná die wedstryd as die “Player that Rocks” aangewys, ná sy onophoudelike verdedigingswerk. “Dit was ’n baie fisiese wedstryd, baie hard op die lyf, maar baie dankie UJ, dit was lekker om teen julle te speel,” het hy gesê. Cloete het ook bygevoeg: “Ons kan nou bou van hier af, ons het baie harde werk ingesit van laasjaar Oktober af, en ons gaan net bou van hier af.”

Hoofafrigter van die Ixias, Randall Modiba, het ná die wedstryd vertel: “Van die begin af het ons geweet dit gaan ’n moeilike wedstryd wees, en soos al ons vorige wedstryde, was dit ’n harde stryd gewees.

“Ons het by die plan gebly, en geduld en dissipline behou, die ouens het aan die einde saamgestaan en die beloing vir hul harde werk verdien,” het hy afgesluit.

Warren Hawkins

warren@mahareng.co.za