LANI FOUCHÉ
Sunette Bridges, sangeres en dogter van wyle sanger Bles Bridges, het haar ongelukkigheid uitgespreek oor die kansellasie van haar optrede by ‘n kanker-liefdadigheidsorganisasie se fondsinsameingskonsert weens bewerings van rassisme.
Bridges sê sy is deur ‘n plaaslike boervrou van Naboomspruit genader om verlede Saterdag by die Afrikaanse Protestantse Kerk in Naboomspruit te sing, wat sy gratis vir hulle sou doen. “Ek bied altyd my dienste gratis vir enige organisasie wat kankerlyers help. My pa was self ‘n kankerlyer,” het Bridges aan Courant gesê.
Sy het egter die dag voor die konsert nuus ontvang dat haar optrede gekanselleer is. “Eers later het ek agtergekom dat ek nie meer mag optree nie as gevolg van ‘n e-pos wat ‘n Johan Pienaar aan Cancervive gestuur het, waarin hy sê hy gaan nie na ‘n rassis luister nie.” Sy sê omdat Pienaar glo ‘n donasie van R25 000 aan Cancervive gemaak het, het die organisasie ingestem om gehoor te gee aan sy griewe en Bridges nie toe te laat om daar te sing nie.
“Die hele aangeleentheid is vir my ongelooflik hartseer. Nadat my pa gesond geword het, het hy ‘n belofte gemaak om sy tantieme aan kankernavorsing te skenk. Daarom het ek dit ook nog altyd ondersteun. Die insident was baie onsmaaklik, en ek dink Cancervive het dit baie sleg hanteer.”
Bridges beskryf haarself as ‘n kampvegter vir die voortbestaan van die Afrikaner-groepering, of eenvoudig ‘n ‘besorgde inwoner’, en is die stigter van die Boervrou-liga. Sy is al verskeie male in die media as ‘n rassis uitgemaak met ‘n verregse politieke beskouing.
‘n Grondwetkenner, Pierre de Vos, het sy mond oor Bridges uitgespoel op sy webblad, constitutionallyspeaking.co.za:
“Sunette is in “trouble” (but maybe not in as much trouble as she should be) because she has exposed herself as a typical racist on her Facebook page. These days, most racist white South Africans will speak in code. They will mask their racism by talking about how the country is going to the dogs and how “they” cannot be trusted. But Sunette is one of the old school racists who does not feel any need to hide her hatred and disgust of black people behind code phrases.”
Volgens Beeld het Pienaar in sy brief aan Cancervive geskryf dat ‘n ‘mens mos nie van Robert Mugabe sal geld aanvaar nie’.
“Ek het die brief geskryf omdat ek nie wil hê mense moet dink ons (Afrikaanssprekendes) is almal sulke opperste rassiste nie,” het Pienaar geskryf. “Dit is so goed jy vra die Ku Klux Klan om vir jou geld in te samel.”
Op Bridges se webblad berig sy daagliks oor plaasaanvalle en –moorde wat in Suid-Afrika plaasvind. Sy het hierdie nuus met haar duisende volgers op Facebook gedeel, maar na die Cancervive-debakel is haar Facebook-groep gesluit.
Sy het aan Courant gesê dit is vir haar kommerwekkend dat daar oor minder as 10% van aanvalle op blankes gerapporteer word. “Daar is ‘n ongelooflike aanslag – nie net op ons boere nie – veral ook op ons bejaardes in dorpe en stede. Dis ‘n probleem wat daadwerklik aangespreek moet word. Ons mense is besig om uitgemoor te word. Ons mense word ook deur verskeie vorms van wetgewing op die kantlyn geskuif. Ek baklei nie teen ‘n spesifieke ras nie. Ek baklei teen ‘n stelsel wat besig is om ‘n hele volk te vernietig.”
Met ‘ons mense’ en ‘volk’ bedoel Bridges spesifiek blanke Suid-Afrikaners.
Op aantuigings van rassisme in die media, sê Bridges: “Ek dink die definisie van rassisme het in ons land totaal obskuur geraak. ‘n Rassis is iemand wat in die oë van die meeste mense in die wêreld ‘n ander persoon van ‘n ander bevolkinsgroep haat. Daar’s geen haat in my nie. Daar’s geen haat in my nie. Maar as om te baklei vir die oorlewing van ‘n sekere groep mense van jou ‘n rassis maak, dan gaan ek niks kan sê as mense vir my sê ek’s ‘n rassis nie.”