Sundowns te sterk vir Celtic in Bloemfontein

0
558
MORGAN PIEK

Mamelodi Sundowns het Bloemfontein Celtic met 3-1 in ‘n dramabelaaide PSL-wedstryd op die Vrystaat-stadion in Bloemfontein geklop.

Doele deur Hlompo Kekana, Cuthbert Malajila en Teko Modise was te veel vir die Bloemfonteinspan wat een doel teruggestaan het toe Joel Mogorosi in die 95ste minuut ‘n strafdoel aangeteken het.

Die wedstryd het in die guns van Sundowns geswaai toe John Arwuah van Celtic ‘n rooi kaart gekry het.

Sundowns het ook ‘n rooi kaart aan die einde van die wedstryd gekry toe skeidsregter Daniel Volgraaf vir Anthony Laffor afgestuur het.

Na die wedstryd het Sundowns-breier, Pitso Mosimane, aan Courant gesê hy is tevrede met sy span se oorwining omdat dit moeilik is om in Bloemfontein te speel weens Siwelele se fanatiese ondersteuning.

Intussen het die Celtic-breier, Clinton Larson, aan Courant gesê hy is heel tevrede met sy jong span se poging teen ‘n ster-belaaide Sundowns-span. Hy het ook bevestig dat hulle teen die einde van die week ook ‘n nuwe doelskieter in hulle geledere behoort te hê.

Die manne van Bloemfontein sal die week egter hulle fokus vanaf liga tot uitklop-sokker skuif met die MTN Top 8.

Celtic speel Vrydag teen Wits in op die Bidvest-stadion, Johannesburg in ‘n MTN Top 8-kwarteindstryd.