Suid-Vrystaatse brand: ‘Die grootste in die provinsie’

0
345
Die nadelige gevolge van die veldbrande. FOTO: Verskaf deur Vrystaat Landbou

Op 12 en 13 Julie 2021 is 104 235 hektaar landbougrond tot op die grond afgebrand. Volgens dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), is hierdie brande die grootste enkele brand wat in die Vrystaat-provinsie aangeteken is.

“Amptelike syfers wat op 22 Julie deur die Vrystaat Sambreel-brandbeskermingsvereniging (FSUFPA) bekend gemaak is, dui aan dat weiveld, vee- en wildplase verwoes is,” sê Armour.

Die verslag dui aan dat 396 plaaseenhede in geheel gebrand het, waarvan 35 plase 100% gebrand het, 134 plase 90%, en 216 plase meer as 50% van hul oppervlakte.

Volgens die FSUFPA-verslag, het “die brand omstreeks 12 Julie om 11:00 ongeveer 22 km suid van Petrusburg ontstaan. Die vuur het in die suidelike rigting gebrand en daarna in ‘n oostelike rigting beweeg. Die brand het meer as 27 uur gewoed en 100km deurkruis. Die toestande was ideaal vir uiters gevaarlike wegholveldbrande weens koue droë wind van 70 km/h, waarteen boere van die Brandbeskermingsverenigings magteloos was”.

Volgens VL word die koste van verlies aan weiding na raming op R345,5 miljoen geskat. Boonop beloop die vroeë skatting van verlies aan vee en infrastruktuur R33,5 miljoen.

VL doen ‘n beroep op die publiek vir ondersteuning vir die boeregemeenskap in die verwoeste gebiede. Enigiemand wat die betrokke boere wil help, kan dit doen deur VL se webwerf te besoek by www.vrystaatlandbou.co.za/fire-disaster-fund

Die VL-kantoor kan gekontak word by 051-444 4609 of info@vslandbou.co.za vir kontakbesonderhede van koördineerders by voer afleweringspunte.

Saamgestel deur Justine Fortuin