Suid-Vrystaat rolbalvroue lewer puik spel

0
1071

Uitstekende rolbal is opgedis toe top-vrouespelers mekaar die stryd aangesê het in die Suid-Vrystaatse Senior Meesters en Meester Ope asook die Senior Presidente-kompetisie in Bloemfontein.
Die spelers moes vinnig aanpas op verskillende perke, want die uitspeelrondtes en eindstryde is op die perke van Orangia, Oud-Studente en Weermag gespeel.
Met die top-12 spelers in elke kategorie in aksie, was die mededinging deurgaans straf en het die spelers mekaar vanuit die staanspoor opgekeil.
Daar is in twee afdelings uitgespeel om die uiteindelike wenners te bepaal.
In die Meesters Ope het Mariane Key van Munisipaliteit en haar klubmaat Adri van Niekerk sake in die eindstryd uitgespook, met Key wat geseëvier het.
In die Senior Meesters-toernooi het nóg ’n speler van Munisipaliteit, Denise Glaun, die eindstryd gehaal waar sy teen Elma Pretorius van Orangia te staan gekom het. Glaun is as die kampioen bekroon.
In die Presidente-kompetisie was dit Alinda Labuschagne van Hillandale en Sanet de Koker van Weermag wat sake in die eindstryd moes beslis. Labuschagne het hier as wenner uit die stryd getree.