Suid-Vrystaat rolbalspanne word geklop op tuisbodem

0
783
RUFUS BOTHA

Die Suid-Vrystaat se twee onder-25 en twee onder-19-spanne wat verlede week (7 tot 11 April) in Bloemfontein op tuisbodem kragte gemeet het by die nasionale toernooi vir dié ouderdomsgroepe, het weliswaar nie die eindrondtes bereik nie, maar aan deursettingsvermoë was daar nie ‘n tekort nie.

Die Suid-Vrystaat het goed gespeel maar in kritiese wedstryde, waar hulle uitgeskakel is, vasgeval.

Die weg is sodoende gebaan vir ‘n eindrondtewedstryd in die onder-25-afdeling tussen Port Natal en Boland waar Boland vroeg reeds hulle neuse voorgekry het om uiteindelik met 36 – 17 te seëvier.

In die eindrondte in die onder-19-ouderdomsgroep (ontwikkelingstoernooi) het die spanne van Kwazulu-Natal Distrikte (KZN-D) en Ekurhuleni koppe gestamp. Gepraat van “koppe” – in ‘n wedstryd wat volgens die “skins”-formaat gespeel is, was dit na 12 koppe (rolbalterme) reeds skrif aan die muur dat KZN-D in beheer was van die wedstryd. KZN-D het uiteindelik as wenners uit die stryd getree met 29 – 17.

Die spanne wat die Suid-Vrystaat verteenwoordig het was:

Onder-25: Arno Greyling (k), Hugh Hendrik van der Watt, Francois Potgieter, David Nel en Jason Key (k), Xen Paunewitz, Brendan Bakkes en Cecile Krige.

Onder-19: Rowan Watkins (k), Robert Mcintyre, Pakiso Mohale, JC Brown en Thapelo Pule (k), Daniël Lebakeng, Malepa Moeketsi, Kagisho Matlhe.