GEORG VAN ECK
Vir Suid-Afrikaanse sommige sportlui, wat die afgelope naweek in aksie was, was dit so amper maar nie stamper nie.
Kevin Anderson, Suid-Afrika se voorste tennisspeler, is in die eindstryd van die Delray Beach Ope vir mans in Florida, Amerika deur Marin Cilic van Kroasië gestuit.
Dit was ’n marathonstryd van drie uur agt minute voordat Cilic 7-6, 6-7 en 6-4 as oorwinnaar van die baan gestap het.
Op die gholfbaan by die Dove Moutain-klub in Marana, Arizona moes die 44-jarige Ernie Els een voor die knie teen Victor Dubuisson van Frankryk buig. In die uitspeelstryd om die derde plek teen Ricky Powler van Amerika het die Big Easy ook eers op die 19de 3 en 2 vasgeval. Hy eindig dus vierde.
In albei gevalle het die Suid-Afrikaners groot veggees aan die dag gelê.
In Mar del Plata in Argentinië is die Protea-hokkiespanne (mans en vroue) besig om die wind van voor te kry.
Die Protea-vrouespan het die eerste van vyf toetse teen die Argentyne 1-6 verloor en in die tweede het die Suid-Afrikaners beter teenstand gebied om 2-6 vas te val. Die Vrystaatse Protea, Tanya Britz, het albei haar span se doele in die tweede toets aangeteken.
Die Protea-mans het hul eerste kragmeting teen die Argentyne 2-6 verloor, maar het die tuisspan in die tweede kragmeting harde bene laat kou voordat Argentinië 4-2 gewen het.
In Suid-Afrika het die Protea-krieketspan op St. Georgepark in die Baai die bordjies behoorlik in die tweede toets teen Michael Clarke se Aussies verhang. Nadat die Proteas die eerste toets met meer as 200 lopies verloor het, het hulle hierdie keer die Aussies in net vier dae met 231 lopies afgeransel. Die derde en beslissende toets word op Nuweland in Kaapstad gespeel.
Die Haaie het ook op die rugbyveld teen die Hurricanes van Nieu-Seeland in hul Super 15-wedstryd in Durban met 27-9 geseëvier.