Suid Afrika roep hom terug

0
397

Sandra Mulder

’n Skrywer en rolprentmaker, wat byna 30 jaar in Europa gewoon het om van post-traumatiese stres weens onder meer bosoorlogervaringe van die ’80s in Angola ontslae te raak, is terug in Bloemfontein waar hy groot geword het. Sy doel is om sy volgende rolprent te maak wat bestaan uit sy eie lewe, die van sy ouers, en plaasaanvalle. Marius Van Niekerk (52) doen nou navorsing in Bloemfontein vir die rolprent, Blood Calls.

Sy vorige film, My Heart of Darkness, is in 2010 as die wenner dokumentêre rolprent tydens die Pan African Film Festival in Luanda aangewys. Dié rolprent handel oor vier veteraansoldate se terugkeer na Angola waar hulle deel gehad het aan die bosoorlog. Hulle besoek plekke waar traumatiese ervaringe soos veldslae plaasgevind het. Alles vorm deel van die versoening en sielsgenesing van die veterane wat weens post-traumatiese stres nooit werklik met hul lewens kon aangaan nie.

Marius skryf sy eie draaiboeke. In sy jongste rolprent sal hy ook die regisseur wees.  In die nuwe rolprent is daar ’n man wat 30 jaar oorsee gewoon het om te herstel aan die skade wat hy opgedoen het in Suid-Afrika en die bosoorlog. Dan bring ’n plaasaanval hom terug na sy mense in Suid-Afrika en dit veroorsaak dat hy steeds die sterk band met die land voel en…
“Ek beplan wel om weer terug te kom na Suid-Afrika. Dit bly ’n mens se land. As jy weer op eie bodem is, kan jy nie anders as om dit in jou bloed te voel nie,” sê hy. Oor sy post-traumatiese stres voel hy dit was ’n lang reis na genesing waarmee die vorige rolprent gehelp het.

“Die weermag het my geprogrammeer om dood te maak, maar ek is nooit ‘gedeprogrammeer’ toe ek uit die weermag gaan nie. Ek moes al mense doodmaak op die ouderdom van 17. Nog voor ek ’n meisie gesoen het. Voor dit het my pa die wit warm waks uit my geslaan,” vertel Van Niekerk.  “Ek is deur jare van hel. Nagmerries, skuld gevoel, geweldadige gedrag, drank en rook was deel van my daaglikse bestaan,” sê hy. Hy en sy vrou, Pocas Pascaul, bly tans is Frankryk in Europa. Hy gaan aan die einde van Februarie terug. “Ons gaan na Suid-Afrika verhuis en iewers in die Kaap gaan bly. “Dan is sy naby aan haar familie in Angola en ek naby aan my ouers in Bloemfontein,” sê hy.