Stuwie ontvang sy Protea-kleure in Desember

0
423
RUFUS BOTHA

Die skitterende en hardwerkende rensteljaer van die Laerskool Grey-kollege, Stuart White, word nie slegs vanaand (Donderdag) vir sy harde werk en puik prestasies in Suid-Afrika én wêreldwyd deur die Vrystaatse Sportmedia vereer as een van dié vereniging se beste junior sportlui van die jaar nie – ‘n nóg groter eerbewys word in Desember aan dié rooikop oorhandig.

White, beter bekend as "Stuwie" onder sy vriende en familie, ontvang in Desember sy junior Protea-kleure en dit op die jeugdige ouderdom van 13 jaar.

In 2014 het White, wat die wêreld aan die brand gejaag het in die 60cc-afdeling oorgeskakel na die 125cc-afdeling en dit met groot sukses. In dié afdeling moet hy meeding teen manne van so oud as 16 jaar in wat bekend staan as ‘karting’ in die Suid-Afrikaanse en streekskampioenskappe in die Junior Max- en Junior Rok-afdelings.

Die stil en teruggetrokke White het vanjaar tydens nasionale byeenkomste puik vertonings opgedis deur onderskeidelik derde, agtste en twee keer sewende te eindig.

Hy het algeheel vyfde in die Suid-Afrikaanse Rotax-kampioenskap geëindig teen manne twee en drie jaar ouer as hy.

White het boonop algeheel tweede geëindig in die land se noordelike streekkampioenskap nadat hy sy staal in agt byeenkomste moes toon. Nadat hy in die Junior Rok-afdeling in Port Elizabeth (vierde), Kaapstad (derde), Idube (KZN, eerste) en Vereeniging (vierde) gekom het, het hy algeheel derde geëindig in dié dissipline.

In die buiteland het White waardevolle ondervinding opgedoen toe hy onder meer in April in België aan die X30 Europese kampioenskap vir juniors deelgeneem het.

In Oktober het hy aan die wêreld-eindrondes vir juniors in Le Mans, Frankryk teen die wêreldbestes te staan gekom, maar tegniese probleme en ‘n ongeluk het hom in die wiele gery.

White se beste vertoning vanjaar was waarskynlik toe hy die Suid-Afrikaanse span verteenwoordig het by die Vortex Junior Rok- wêreldbekerbyeenkoms in Italië. Nie minder nie as 66 deelnemers uit 35 lande het deelgeneem en White het in die eindronde 18de geëindig – dit in ‘n afdeling waarin hy nog drie jaar kan meeding.