Studentekamp verlig die toekoms

0
974
FOTO: Verskaf

Die Kopanong-kerk, of die voormalige Kovsie-kerk, bied vir die eerste keer sedert die pandemie weer hul Kougom Studentekamp by die Mooigenoeg-kampterrein aan vroeg in Januarie 2023.

Vir die afgelope 31 jaar bied Kougom een van die beste ervarings vir eerstejaarstudente wat die studentelewe betree. Kougom is gevestig om studente by die universiteitslewe te verwelkom, in samewerking met Kopanong, wat studente spiritueel, emosioneel en sosiaal ondersteun.

Volgens Kopanong se bemarkingsbeampte, Marlou Strydom, is die kamp nou ook beskikbaar vir alle voorgraadse studente wat nog aan hul studies werk, om sodoende hul geloof en sosiale vlerke verder te sprei. “Kougom 2023 plaas sterk klem op die bou van nuwe verhoudings, die ontdekking van ‘n nuwe rigting vir die toekoms en die verkenning van ‘n nuwe rigting. Alles verbind met ons oorhoofse tema; verlig die toekoms. Ons glo in ’n helder toekoms in die hande van jong mense en ons studente en daarom wil ons met híerdie Kougom van 2023, werk om die helder toekoms te ontlok en met Christelike waardes die toekoms in te stuur,” sê Strydom.

Studente kan uitsien na prettige aktiwiteite, gerig op die ontdekking van spanbou, dieper verbindings maak en ’n nuwe rigting in Christus ontdek. “Dié jaar keer die gewilde Kruistog, ’n passiespele wat handel oor die kruisiging van Jesus, ook terug met ’n nuwe en opwindende gevoel wat kyk na die diepte van Christenskap,” sê Strydom. Volgens Kopanong se voorsitter, Luné Pretorius, gaan Kougom 2023 ’n opwindende nuwe weergawe wees wat al die nuwe (en ou) studente gaan geniet en hulle ’n spasie gee om nuwe mense te ontmoet en vriendskappe te maak wat hulle deur hulle studentelewe gaan dra.

Hoofleraar van die Kopanong-kerk, Chris de Vries, sê: “Ons is baie opgewonde om ná die Covid-19 tydperk weer Kougom aan te bied vir die studente van Bloemfontein. Alhoewel die kamp ‘n splinternuwe baadjie kry, gaan die kernaspekte wat Kougom eg maak, steeds teenwoordig wees by die kamp. Ons is ook opgewonde om ’n nuwe groep studente te verwelkom en saam met hulle in hul geloof te groei.”

Die kamp vind vanaf 18 tot 21 Januarie 2023 plaas en die volle vierdag-kamp is beskikbaar teen R900.

Registrasie vir die kamp is reeds oop en kan aanlyn gedoen word by www. kopanongchurch.org/signup4kougom. Kontak info@kopanongchurch.org of 087- 265-5115 vir enige navrae.

Justine Fortuin
justine@mahareng.co.za