Studente hou massavergadering op UV-kampus

0
568

Ontevrede studente aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) gaan nie vandag voort met ‘n optog op die Bloemfontein-kampus om ‘n griefskrif aan visekanselier en rektor, Jonathan Jansen, te oorhandig nie.

Die Suid-Afrikaanse Studentekongres  (Sasco)  se voorsitter in Motheo, Bongani Zwane, sê lede van Sasco en die UV se studenteraad (SR) in Bloemfontein gaan eers ‘n massavergadering op kampus hou om studente die geleentheid te gee om kwessies uit te lig waaroor hulle ontevrede is.

Die kwessies sal dan in ‘n griefskrif aangeteken word wat na verwagting later vandeesweek aan Jansen oorhandig kan word. Hy sê dit is nodig dat studente hul probleme onder die SR se aandag bring sodat die kwessies gesamentlik in die memorandum aangeteken kan word.

Intussen sê die Noordwes-Universiteit (NWU) se woordvoerder, Louis Jacobs, die Mafikeng-kampus en Vaaldriehoek-kampus bly gesluit, terwyl studentebetogings voortduur. Bedrywighede gaan voort soos normaal aan die Potchefstroom-kampus. Hy sê betogende studente van die Mafikeng-kampus was gister haaks met die polisie, maar universiteitsbestuur voer samesprekings met verskeie belanggroepe.

Die massavergadering op die UV se Bloemfontein-kampus is vanmiddag omstreeks 13:00 by die studentesentrum.- Christal-Lize Muller