Vrystaatse studente het uitgeblink in die jongste Intervarsitybrew: Brewing & Tasting Challenge, wat jaarliks aangebied word by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein. Suid-Afrika se beste studentebrouers van 17 universiteite en ’n sjefskool het meegeding in ses bierkategorieë en etiketontwerp.
Die kompetisie, ondersteun deur die Biervereniging van Suid-Afrika (Basa), die Craft Brewers Association van Suid-Afrika (CBASA), en borge soos die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB), Heineken Beverages, FoodBev Manufacturing Seta en Fermentis, fokus daarop om talent te ontdek en innovasie in die broubedryf te bevorder.
Prof. Olga de Smidt, kompetisiedirekteur sedert 2020, het aan Bloemfontein Courant gesê die SUT het die geleentheid sedert 2018 oorgeneem nadat SAB dit aanvanklik gereël het. “Die idee is om studente bloot te stel aan die wetenskap van brou, en hul bietjie te druk om te innoveer terwyl hulle hul eie bier maak,” het sy gesê. Spanne moet ses biere in verskillende kategorieë brou en verpak, en kon kies uit 120 internasionaal erkende bierstyle.
In een unieke kategorie, die African WiLD Ale, mag slegs inheemse bestanddele gebruik word. Dit het die studente uitgedaag om plaaslike hulpbronne kreatief te benut. “Dit bied regtig ’n uitdaging vir studente om slegs plaaslike bestanddele te oorweeg,” het De Smidt verduidelik. Die kompetisie moedig interdissiplinêre samewerking aan en verg dat studente uit uiteenlopende velde moet saamwerk.
Met die prysuitdeling Saterdag (25/10) het die SUT en Universiteit van die Vrystaat (UV) uitgeblink. Die UV se span het die India Pale Ale (IPA)-kategorie gewen met hul Passion Punch-bier. In die Sour Fruit Beer-kategorie het die UV derde en die SUT tweede gekom met hul Bohemian Drifter. Die UV het ook die derde plek in die African WiLD Ale-kategorie verower met hul Margarita Gose.

Die SUT het drie verdere toekennings ontvang: die tweede plek vir hul ligte bier Shore Sage, die tweede plek vir hul verouderde bier The Sovereign, en hul mentor, Puleng Zacharia, is as mentor van die jaar vereer.

Die kompetisie inspireer studente om loopbane in die bierbedryf te oorweeg. “Jy hoef nie noodwendig ’n brouer te wees om in die bedryf te werk nie,” het De Smidt gesê. “Daar is soveel verskillende geleenthede. Intervarsitybrew skep ’n positiewe ruimte vir student om hul plek te vind in die bierbedryf.”
Sy noem dat verskeie alumni wat aan die kompetisie deelgeneem het, in verskillende sektore van die bierbedryf werk en presteer.
Warren Hawkins
warren@mahareng.co.za






