Student volhard ondanks struikelblokke

0
983
Percy de Villiers (23), wat nou kandidaatprokureur in Bloemfontein is.

Karookind en sanger, Percy de Villiers (23), wat in 2013 na Bloemfontein verhuis het, het hierdie jaar, ná vele uitdagings, een van sy grootste drome sien waar word toe hy as kandidaatprokureur begin werk het by ‘n regsfirma in die stad.

De Villiers het aan Bloemfontein Courant vertel sy storie het begin met baie struikelblokke. Die een wat hom die hardste getref het, was toe hy sy pa, wat die broodwinner in die gesin was, verloor het.

“Destyds het ek geweet ek kan sing. Ek het toe my passie as jong sanger uitgeleef, my doelwitte nagestreef, en begin om ons gesin te versorg.”

Hy het geweet het dat hy graag ‘n regspraktisyn wou word, maar hy het ook besef dat hy ‘n manier moes vind om sy gesin te help. Hy het begin sing en geld verdien.

De Villiers het deur depressie en verlies geveg om uit te kom waar hy nou is. Vandag hoop hy om ‘n inspirasie vir jong mense te wees wat deur moeilike situasies gaan.

“Ek het in 2015 begin studeer vir my LLB-graad. Kort hierna is vir my gesê dat ek dit nie sal maak nie, omdat niemand in ons gemeenskap of in my familie in daardie stadium aan die universiteit gegradueer het nie.” Hy vertel hoedat hy, anders as ander studente, nie die geleentheid gehad het om deur sy gesin na die universiteit gebring te word nie. Hy moes maar self op ‘n bus klim.

De Villiers sê hy het vir die vier-jaar-kursus ingeskryf. Dit was vir hom baie veeleisend omdat hy deurentyd gesing het en as seremoniemeester opgetree het by geleenthede. In sy derde jaar het hy sy beurs verloor en is toe gedwing om ‘n gap-jaar te neem. Hy het volgehou om aansoek te doen vir ‘n beurs en op 23 Desember 2020 sy graad ontvang.
Hy het sedert Oktober verlede jaar begin voelers uitsteek vir werk. Hy het 150 e-posse na firmas gestuur en net antwoord vyf teruggekry, waarvan een suksesvol was.

De Villiers is ‘n voorbeeld van die ou gesegde, “Aanhouer wen”. Sy raad aan jongmense is om nooit op te hou nie en te volhard. “Die slegte tye is net ‘n fase en gaan nie jou lewe bepaal nie, hou aan om die ‘onmoontlike’ te droom”

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za