Student se passie sorg vir ‘n geldjie in grendeltyd

0
660
Melindi Reinecke

Toe die gasvryheidsbedryf weens Covid-19 op sy knieë gedwing is, het ‘n gasvryheidstudent haar passie om oorbelle te maak gebruik om gate toe te stop en ‘n geldjie te verdien in ‘n tyd van onsekerheid en geen inkomste.

Wat vir Melindi Reynecke op 16-jarige ouderdom as stokperdjie begin het, het nou verander na die maak van oorbelle wat bekend staan as die Melin’s Creations-handelsnaam.

“Ek het begin om krale-oorbelle vir my ma te maak en ‘n paar stelle weggegee as geskenke, maar nooit werklik tyd gehad om hierdie passie uit te leef nie. Toe tref die Covid-19-pandemie ons hierdie jaar en die gasvryheidsbedryf word op sy knieë gedwing nadat grendeltyd ingestel is.

Afgesien van die uitdaging om in die huis vasgekeer te sit en nie te weet wat die toekoms inhou nie, het dit aan my die ‘geskenk van tyd’ gegee. My passie om oorbelle te maak, het herleef. Elke oomblik is vir my heerlik en dit keer dat ek nie van my sinne beroof word nie,” sê Reinecke.

Melin’s Creations het ‘n reeks handgemaakte oorbelle wat by vroue se elke-dag-voorkoms pas, en selfs meer bied. Vir haar skeppings gebruik Reinecke polimeerklei wat sy beskryf as “redelik maklik om mee te werk”.

Klei-oorbelle gemaak deur Melindi Reinecke

Volgens haar is dit nie net pret nie, maar ook terapeuties. “Nog ‘n rede is die groot reeks kleure om van te kies. Mens kan selfs rondspeel deur verskillende kleure te meng en so verskillende skakerings kry. Klei-oorbelle is die nuutste modeneiging en het baie gewild geword. Dit is tot dusver ook nie baie maklik bekombaar in Bloem nie.”

Reinecke se planne is om aan te hou oorbelle maak wat vroue graag sal wil dra en wat iets doen vir hul selfvertroue . Om meer van haar skeppings te sien, besoek haar Instagram-bladsy @melins_creations of Facebook @Melin’s Creations of stuur ‘n WhatsApp aan haar vir bestellings by 072 704 3436.

Pierce van Heerden

pierce@mahareng.co.za