Student se kleioorbelle laat die oë rek

0
889
Eienaar van Oor tot Oor, Jeanté Botha

Die 19-jarige eerstejaarstudent, Jeanté Botha van Bloemfontein, se kreatiewe energie om iets met die hande te maak asook die groot aanvraag vir kleioorbelle het gelei tot die ontstaan van haar nuwe besigheid, Oor tot Oor.

Jeanté het aan Bloemfontein Courant vertel sy is oortuig daarvan dat dit
ook ’n ideale geleentheid is om haar kreatiwiteit met ander te deel. “Ek au pair tans vir ’n ekstra inkomste, en toe ek eendag saam met een van die kindertjies klei speel, het die idee by my posgevat en het ek dadelik begin spaar en beplan.”

Die entoesiastiese student is op haar gelukkigste hoe kreatiewer sy is en
om jaar stokperdjie in die gerief van haar eie huis te kan doen, is vir haar ’n voorreg.

Daar is ‘n groot vraag na Jeanté Botha se klei- oorbelle.

Op die vraag hoe sy aan die naam vir haar besigheid gekom het, het sy verduidelik dat sy dit so eenvoudig moontlik wou hê dat dit ook oorspronklik moes wees. Sy het toe besluit op die naam Oor tot Oor omrede ’n mens letterlik jou oorbelle aan jou ore dra, en figuurlik word die betekenis van “dit het van oor tot oor gegaan“ oorgedra, amper soos by word of mouth, maar hier van oor tot oor.”

Jeanté sê sy hoop haar besigheid en haar skeppings haar kliënte ook van oor tot oor sal laat glimlag, veral wanneer hulle die ideale geskenk vir Moedersdag, Vrouedag, ’n verjaardag of selfs sommer net om iemand te bederf raakloop. “Dis klein, dis uniek en ’n uitrusting is nie afgerond sonder ’n bypassende paar oorbelle nie.”

Toe sy op die idee gekom het, vertel Jeanté, het sy dit eers met die mense na aan haar gedeel om te hoor wat hulle daarvan dink. “Ek het toe begin navorsing doen om uit te vind wat die aanvraag daarvoor is en watter soort gereedskap benodig word. Daarna het ek begin spaar om dit aan te koop. Mense na aan my het my ook gehelp op die been kom met die aankoop van paar stukke gereedskap.”

Sy verduidelik hoe die bestellings werk: mense kies hul gunsteling paar oorbelle, WhatsApp die kode van die artikel na 082-096-4661 en betaal dan. Besoek gerus haar Instagram @oor. tot.oor en Facebook-blad. Klante is ook welkom om hul eie ontwerpe in te stuur.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za