Strydros Ferreira ook nou ‘n Cheetah

0
375
Die ervare Schalk Ferreira toe hy nog vir die Southern Kings gespeel het. FOTO: INPHO

Die 36-jarige stut, Schalk Ferreira, is die nuutste speler om by die Toyota Cheetahs aan te sluit. Dit is ‘n uitgemaakde saak dat dié strydros, wat al voorheen vir die Stormers, Southern Kings en Toulousse in Frankryk uitgedraf het, vir die volgende twee jaar ‘n Bloemfonteiner sal wees.

Ferreira was die afgelope tien maande kontrakloos en het Woensdag amptelik by die Cheetahs aangemeld vir die span se voorseisoen vir die beplande Franchise-beker.

Ferreira is die vierde nuwe aanwins by die Cheetahs die afgelope week en sy aansluiting is baie belangrik vir die span ná die grootskaalse uittog van spelers.

Ferreira het die nuus aan Bloemfontein Courant bevestig en bygevoeg dat hy en sy gesin verlede week gepak het om na die Rosestad te verhuis.

“Ek het wel ‘n kontrak van twee jaar by die Cheetahs onderteken. Ek en my gesin voel op die oomblik baie bly en baie geseënd. Ek het tien maande lank geoefen sonder om te weet of daar nog ‘n jaar of twee in my rugbyloopbaan gaan wees, maar ek het my lewe geleef asof dit sou gebeur. As ‘n man van geloof het die Here deurgekom.

“Die volgende twee jaar sal vir my baie belangrik wees. Ek wil nog steeds ‘n hap van die appel hê, ek voel ek het nog baie om te gee en my liggaam voel goed.”

“Ek het vir afrigter Hawies (Fourie) gesê dat ek weer vir bekers wil meeding, en dat die Vrystaat dit gaan gee. Ek ken ‘n paar ouens met wie ek voorheen gespeel het. ‘n Paar van die ouens soos Ruan (Pienaar) en Frans (Steyn). Ek is baie opgewonde om deel te wees van die Cheetahs en die kultuur van die span.”

“Selfs my familie sien daarna uit. My seuntjie gaan nou graad een toe en my vrou het ‘n paar vriende in Bloemfontein.”

“Die toekoms lyk blink. Daar is sprake van die Cheetahs se toetrede tot die Europese Uitdaagbeker of iets dergeliks. So, ons is baie opgewonde.”

“Dit was’n bietjie chaoties by die huis met al die gepakkery, maar ná tien maande met niks om oor te praat nie en net te glo dat iets oor ons pad sou kom, is ons regtig gelukkig en opgewonde. ”

Intussen het voormalige Springbok-flank, Jacques Potgieter, verlede Vrydag sy mediese en fiksheidstoetse ondergaan by die Cheetahs. Potgieter het wel nie heeltemal beïndruk tydens sy fiksheidstoets nie, maar sy aansluiting by die Cheetahs is nie heeltemal van die tafel af nie. – MORGAN PIEK