Stroop van dieretuin-renosters ondersoek

0
5161
Christal-lize Muller & André Grobler

Die polisieondersoek na die voorval waartydens renosters van die Bloemfonteinse dieretuin gestroop is, is in ‘n kritieke stadium. Dit kom nadat die karkasse van ‘n witrenosterkoei en haar kalf verlede Donderdagoggend deur ‘n veldwagter in ‘n kamp op die Kwaggafonteinplaas gevind is. Die diere is elk drie keer geskiet. Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro, sê hoewel niemand nog in hegtenis geneem is in verband met die voorval nie, werk die polisie se forensiese eenheid en ander betrokkenes nou saam om die stropers te soek.
Hy wou nie meer inligting verskaf oor hoe die stropers toegang tot die Kwaggafonteinplaas, waarop die nuwe Bloemfonteinse dieretuin ontwikkel word, verkry het nie.
Die metro het sy misnoeë uitgespreek dat die dieretuin se renosters geteiken is. Die renosterkoei is sedert 2007 op die plaas nadat sy bekom is as deel van ‘n uitruilooreenkoms. Haar kalf is op die plaas gebore.
Volgens Khedama was streng veiligheidsmaatreëls in plek en is die plaas goed omhein. Daar was goeie samewerking tussen die polisie en lede van die metro se sekuriteitsdienste, maar meer gaan nou gedoen word om die plaas en die bestaande dieretuin in die stad te beveilig. Bewaarders gaan meer sigbaar diens doen en patrollies gaan opgeskerp word. Khedama sê die verskuiwing van die dieretuin in die stad na die plaas vind stelselmatig plaas.
Die nuwe dieretuin gaan meer aan besoekers bied as om net diere te besigtig. Besoekers sal geriewe tot hul beskikking hê om die hele dag in die buitelug tussen die diere deur te bring, sê hy.
Intussen ondersoek die polisie ‘n klag in terme van die Biodiversiteitswet, wat verband hou met die beskerming van bedreigde spesies. Die Departement van Omgewingsake het vroeër gesê die situasie met renosterstropery het gestabiliseer. Dit word toegeskryf aan intensiewe ingryping in die bekamping van renosterstropery. Suid-Afrika het 1175 renosters in 2015 met stropery verloor teenoor 1215 in 2014. Daar is ook aanduidings dat Suid-Afrika se renosterbevolking stabiel is ten spyte van die stropery. – Christal-lize Muller & André Grobler 
christal-lize@centralmediagroup.co.za
andreg@centralmediagroup.co.za