Stroebel en Kirstein wen VS-elite-afdeling

0
2226
Daniël Stroebel het Saterdag in Bloemfontein die Vrystaat padfietsrytitel oor ‘n afstand van 127,5km gerieflik verower. FOTO: GEORGE STROEBEL

Daniël Stroebel het Saterdag in Bloemfontein nie veel moeite ondervind om die Vrystaat-padfietstitel in die elite-afdeling vir mans te beklink nie. Die uitgeslape 23-jarige Stroebel se taktiek en fiksheid het die deurgslag gegee in dié wedren, wat oor ‘n afstand van 127,5km beslis is.

Stroebel en ‘n groep van om en by 20 jaers het tot by die 70km-merk nog kat en muis met mekaar gespeel toe ses jaers besluit het kinderspeletjies is iets van die verlede en met ‘n wegbreekpoging die res van die bondel agterweë gelaat.

Stroebel en sy broer, die 25-jarige Heinrich, wat ook in die elite-afdeling gejaag het, asook die internasionale jeug-fietsryer, Damean Oosthuizen, wat in die onder 23-afdeling gejaag het, was saam in die wegbreekgroep.

Daniël het egter met twee rondtes einde toe ‘n beslissende wegbreekpoging aangewend om uiteindelik met ‘n tyd van 3:16:17 te seëvier. Oosthuizen het in die proses vir Heinrich agterweë gelaat om algeheel tweede te eindig en die onder 23-titel sy eie te maak.
Oosthuizen, wat 3:17:01 afgetrap het, was 29 sekondes voor Heinrich (3:17:30), wat die silwermedalje in die elite-afdeling losgetrap het.

Die wedren vir seuns onder 16 oor 71,4km het in ‘n wilde jaagtog na die eindstreep ontaard. De Klerk Jacobs, wat een van die land se opkomende sterre in veral bergfietswedrenne is, het net-net sy wiel voor Ernest Botha oor die wenstreep gedruk om oorwinning te smaak. Hulle het albei ‘n tyd van 2:02:20 aangeteken.

Wat hierdie naelrit einde toe nóg interessanter gemaak het, is dat ‘n lid van die Eva-geslag, Tanya Kirstein, óók in die naelrit saam met De Klerk en Botha betrokke was. Kirstein was saam met die seuns onder 16 oor die genoemde afstand van 71,4km in aksie en het die afdeling vir elite-vroue gewen in dieselfde tyd as De Klerk en Botha.

Jaydon Botes het loshande koning gekraai in die seuns o.14-wedren (43,5km) in ‘n kookwatertyd van 1:26:39. Hy het die tweede en derde jaers, Luhan Serfontein (1:29:02) en Ruan Pretorius (1:54,02), getroef.

Die wedren vir junior mans is gewen deur Raymond Prinsloo (127,5km) in 3:38:14. Hy was meer as twee minute voor sy naaste teenstander, Ben Brits (3:40:16).

Kyla Buys was eerste in die junior afdeling vir vroue in ‘n mooi tyd (2:12:25) vir die 71,4km.
Olebogeng Mothibe was eerste in die afdeling vir mans 30 tot 34 jaar (127,5km) met ‘n tyd van 3:42:42.

Mothibe se tyd was egter heelwat stadiger as die wenner van die wedren vir mans 40 tot 44 jaar, Pieter Oosthuizen, se tyd van 3:21:13. En let wel, nóg vier ander manne het in Oosthuizen se ouderdomsgroep net ná hom geëindig en dieselfde tyd as hy aangeteken.

Hulle is Martin Erasmus, Ryno Potgieter, Willie Liebenberg en Tat Brummer, wat onderskeidelik van tweede tot vyfde oor die eindstreep gesnel het. – RUFUS BOTHA