Die plaaslike musiekduo Strings Attached, bestaande uit Brandon Nel en Cleo-Lee Kruger, stel op 8 Februarie 2025 hul eerste oorspronklike liedjie, “Ek Soek Na Jou”, op alle musiekplatforms vry.
Volgens Brandon is die liedjie geïnspireer deur hul verhouding van meer as twee jaar. “Ons manier van skryf is om eers aan ’n unieke wysie te dink en dan ’n storie met die woorde te vertel. Die liedjie is opgeneem deur John Smit, terwyl ons self die instrumente gespeel het. Ek het die kitaarwerk en perkussie gedoen, Cleo-Lee het die ukulele gespeel, en my broer, Jayden Nel, het die baskitaar behartig.”
Die liedjie dra die boodskap dat liefde onverwags gebeur en dat die regte persoon op die regte tyd sal kom. “Hierdie is vir ons ’n ‘goedvoel’-liedjie, en ons hoop mense sal met ons begin saamsing,” sê Nel.
Kruger het die proses as ’n spesiale ervaring beskryf. “Die kwaliteit tyd saam met Brandon was vir my die hoogtepunt. Ons het al baie met musiek gespeel, maar hierdie keer het alles net natuurlik saamgekom. Die konneksie van musiek tussen ons speel ’n groot rol in hoe ons ons musiekreis aanpak.”
Die duo het ook hul dankbaarheid teenoor Bloemfontein se ondersteuners uitgespreek. “Ons plaaslike aanhang en die ondersteuning van restaurante en koffiewinkels wat nog live musiek aanbied, motiveer ons as kunstenaars,” voeg sy by.
Strings Attached hoop om hul musiek na ’n groter gehoor uit te dra. “Ons droom vir ‘Ek Soek Na Jou’ is dat dit mense laat dink ‘Wow, liefde bestaan regtig’. Ons wil jongmense inspireer en Afrikaanse musiek se plek in hul lewens versterk,” sê Kruger.
Met hul sterk plaaslike ondersteuning en passie vir musiek, lyk die pad vorentoe vir Strings Attached baie belowend.
Justine Fortuin