GEORG VAN ECK
Ondanks die feit dat die Toyota Cheetahs vanjaar in die Castle Kampioenskapreeks (Super 15) uitstekende spel gelewer het en drie Springbokke, Adriaan Strauss, Coenie Oosthuizen en Johan Goosen asook ’n Bokkie, Raymond Rhule (o.20), opgelewer het, tel min Vrystaters as kandidate vir Suid-Afrika se top-eerbewyse in rugby.
Goosen en Rhule is albei kandidate vir die Jong Speler van die Jaar-toekenning, terwyl Rhule ook ’n kandidaat is om as die Curriebekerspeler van die Jaar aangewys te word. Daar gaan strawwe medediging vir al agt die toekennings wees en die een speler wat sterk op die voorgrond getree het, is die jong reus van die Stormers en Westelike Provinsie, Eben Etzebeth. Dié Bok-slot is een van die finale kandidate vir nie minder nie as drie van die eerbewyse.
Die finale kandidate is:
Speler van die Jaar: Keegan Daniels, Eben Etzebeth, Bryan Habana, Pat Lambie en JP Pietersen.
Jong Spelers van die Jaar: Marcell Coetzee, Eben Etzebeth, Johan Goosen, Elton Jantjies, Raymond Rhule.
Span van die Jaar: Oostelike Provinsie-Kings (Eerste Liga), Sharks en Stormers (albei Superreeks), KwaZulu-Natal Haaie (Curriebeker), Suid-Afrikaanse o.20-span (IRB-toernooi).
Afrigter van die Jaar: Allister Coetzee (Stormers en WP), Pote Human (Griekwas), John Plumtree (Sharks en Haaie), Alan Solomons (OP-Kings), Dawie Theron (SA o.20).
Speler van die Jaar (Super-reeks): Marcell Coetzee, Keegan Daniels, Bismarck du Plessis, Eben Etzebeth, JP Pietersen.