Strauss, Roberts en Kruger verwerf top-sporteerbewyse

0
Strauss, Roberts en Kruger verwerf top-sporteerbewyse

GEORG VAN ECK

Peter de Villiers, die voormalige Springbok-rugbyafrigter, het verlede week bykomende luister as hoofspreker aan die jaarliks banket van die Vrystaatse Sportmedia en SAB Castle verleen met sy unieke siening van sake.
Die top-sportlui van die Vrystaat, junior en senior, gestremdes asook afrigters, beamptes en ’n vereniging, die Vrystaatse Rugbyskeidsregtersvereniging, wat van die land se top-blasers, Jaco Peyper, Lourens van der Merwe, Marlize Jordaan, Jaco Kotzé, Pieter van Vuuren, Sakkie Meyer en Hendrik Smit, opgelewer het, is vanjaar vereer. Die oud-Bloemfonteiner en Paralimpiese gouemedalje-wenner, Arnu Fourie, het ook tydens die geleentheid by die Monte Bello landgoed oor sy ervarings gepraat.
Die Vrystaatse Sportster vir 2012 is die Springbok-haker en gewilde kaptein van die Vrystaat-Cheetahs Adriaan Strauss.
In die Olimpiese jaar is dit ook gepas dat vier van die eerbewyse aan sportlui en beamptes, wat op die Speles (Olimpiese en Paralimpiese) in Londen in aksie was, toeken is. Een van Suid-Afrika en die Vrystaat se internasionale sterre, Kate Roberts, is ná haar vertonings in driekamp as die Vrystaat se Sportvrou van Jaar gekroon, terwyl die gholfspeler Jbé Kruger die toekenning as Sportman van die Jaar voor die ander kandidate weggeraap het.
Die Paralimpiese atleet, Teboho Mokgalagadi, is ná sy uithalervertoning op die Paralimpiese Spele in Londen as die Vrystaat se top-gestremde atleet gekroon en het die Frans Kleynhans-trofee ontvang.
Die top-juniors (meisies en seuns) is ook vereer, terwyl die Vrystaatse Rugbyskeidsregtersvereniging asook beamptes soos André Bronkhorst (sokkerafrigter), dr. Louis Holtzhausen as Suid-Afrika se Olimpiese spandokter en Ernesta Strydom as internasionale atletiekbeampte op vanjaar die Paralimpiese Spele erkenning en toekennings ontvang het.
Die mededinging in al die kategorieë was straf en met internasionale prestasies een van die vereistes kon verskeie benoemdes soos Strauss, Raymond Rhule (albei rugby), Clinton Roets (rolbal), Dean Elgar (krieket), Izelle Lategan en Leslé-Ann George (albei hokkie) weens ander verpligtinge nie teenwoordig wees nie.
Die feit dat Roberts en die Protea-netbalspelers, Maryka Holtzhausen en Karla Mostert, asook Tanya Britz (hokkie) Johan Goosen (rugby) en Wiaan Viljoen (pluimbal) asook die meeste van die junior sportlui teenwoordig was, het dit ’n uitsonderlike banket gemaak.

No posts to display