Straat dalk na geliefde Bfn-dokter genoem

0
1721
Dr. Enver Katzen

Die gemeenskap van Heidedal is onlangs geruk deur die dood van die geliefde dr. Enver Katzen, die eerste bruin dokter wat ‘n mediese spreekkamer in die gebied oopgemaak en bedryf het.

Katzen het drie generasies van Heidedallers bedien en die gemeenskap het besluit om ‘n versoekskrif op te stel en te vra dat Sonneblomstraat, waar sy praktyk geleë was, na hom genoem word.

Volgens Gregory Werner, gemeenskapsaktivis, was Katzen ‘n plesierige mens en het ‘n positiewe invloed gehad op baie Heidedallers “Oor die jare was hy ook ‘n aktivis wat aangesluit het by die ANC in die stryd om vryheid in Suid-Afrika en ‘n beter Heidedal. Menige gemeenskapslede het gratis mediese hulp van hom ontvang. Hy was ‘n nederige en geliefde mensemens.”

Werner sê ten spyte van die gevare wat die Coronavirus ingehou het, het Katzen sy spreekkamer oopgehou om mense van die gemeenskap te help. ”Hy het die virus opgedoen en aan Covid-19 beswyk. Hy was daar tot die bitter einde vir sy gemeenskap, dit is die tipe mens wat hy was, en dit is die grootste rede hoekom die gemeenskap hierdie stap neem.”

Werner vertel dat hy ‘n paar weke gelede voorgestel het dat Sonneblomstraat se naam verander word ter ere van Katzen. Die voorstel is geweldig ondersteun by wyse van ‘n versoekskrif wat meer as 2000 elektroniese handtekeninge binne een week ingewin het. Dit is deur mense vanuit alle oorde ondersteun,-onder andere DA-raadslid Attie Terblanche (Wyk 16) en parlementêre lid, Hein April.

Die versoekskrif en aansoek vir die naamsverandering is oorhandig aan Terblanche, wat sê dat hy alle papierwerk by die woordvoerder van die Mangaung-metro ingedien het. Terblanche sê hulle wag nou vir terugvoering van die munisipaliteit, en sal op hul beurt die gemeenskap in kennis stel van enige verwikkelinge.

Heidre Malgas
heidre@mahareng.co.za