Stortingsterrein hou gevaar in vir diere

0
236
’n Foto wat op Facebook geplaas is van diere wat op stortingsterreine ronddwaal en babadoeke vreet.

‘n Groot bron van kommer onder Bloemfonteinse inwoners en ‘n saak waaroor daar in die afgelope tyd al hoe meer gekla word, is diere wat by stortingsterreine kos soek.

‘n Groot hoeveelheid kos wat wêreldwyd produseer word, word op stortingsterreine gestort. Dit sluit groente wat nie op winkelrakke beland nie, kos met vervaldatums, oorskietkos, ensovoorts in. Hierdie afval het ‘n negatiewe invloed op die omgewing omdat dit nie net dierevoortplanting ontwrig nie, maar selfs daartoe lei dat diere wat van die stortingsterreine af vreet, vrek.

Die Bloemfontein DBV-span is van links: Tenogo Maswanganyi, Charmaine Engelbrecht, Reinet Meyer en Duàn Matthee. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

In ‘n onderhoud met Bloemfontien Courant het senior inspekteur en bestuurder van die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV), Reinet Meyer, gesê dat as daar nie behoorlik toesig gehou word oor diere nie en hulle van stortingsterreine af vreet, kan dit die gesondheid van die diere beïnvloed en selfs dodelik wees. “Die eerste ding om te doen is om die DBV te bel. Ons is ook die munisipale skut vir groot diere. As jy dus beeste, bokke, skape, perde en ander diere sien wat nie onder toesig is nie, skakel die DBV,” sê Meyer.

Meyer vertel wanneer hulle ‘n oproep ontvang, gaan hulle uit om die situasie te beoordeel en die veiligheid van die diere te bepaal. As daar diere gesien word wat besig is om van die vullis te eet, sal hulle verwyder word. Meyer en haar span het ‘n toename in gevalle waar diere vryelik op stortingsterreine en langs die N8/Thaba Nchu-pad rondloop, gesien. “Dit is nie gesond vir die diere nie en kan maklik hul dood veroorsaak. Ons by die DBV sal alle diere beskerm,” sê Meyer.

Indien lede van die publiek sulke gevalle teëkom, word hulle gevra om die Bloemfonteinse DBV by 051-447-3801 te skakel. – Pierce van Heerden
pierce@mahareng.co.za