Karel Bester en Sersant de Kok sal op enige dag van die week vir Paul en Davy onder die tafel in drink. Ons Boere kan ons drank vat. En op ‘n Saterdag begin jy vroeg al. Wie drentel eers negeuur die aand by die bar in. Daai tyd is jy al sterk, Boetie, baie doppe sterk.
Moet ook nie vir Doep en vir Fanie weggooi nie. Daardie ou oom, wat so stadig sluk aan sy jenewer, kan gaan slaap.
In 1973 skryf Billy Joel die liedjie “Piano Man”. Dit was gedurende die tyd toe hy aand na aand in ‘n Los Angeles-kroegie klavier moes speel om aan die lewe te bly. Hy stel ons voor aan ‘n paar werklike karakters. Daar is die ou man wat langs hom sit, “making love to his tonic and gin”. Ons ontmoet ook vir Paul, die eiendomsagent wat droom van die boek wat hy wil skryf, en vir Davy, ‘n matroos wat nog in die “navy” is. En dan die kelnerin, wat anoniem bly. “The waitress is practicing politics.” (In die werklike lewe was sy Elizabeth Weber, met wie Joel in die jaar toe “Piano Man” verskyn het, getroud is. Hulle is in 1982 geskei.)
Tien jaar na Billy Joel se sukses met sy klavierliedjie, neem David Kramer sy eie kroegsong op. “Royal Hotel”. En hier, in ‘n plattelandse drinkplek iewers in die Karoo, duisende kilometer verwyder van die gebroke Los Angeles-drinkers met hulle onvervulde Hollywood-drome, ontmoet ons ‘n ander spannetjie. Daar is ‘n polisieman, die koel-komkommer (“ons noem hom op sy nommer”) sersant De Kok. Van die Noordweste is daar Karel Bester, kortmouhemp, kakiebroek, hare kort om die ore. En moenie die oud-Springbok vergeet nie. Doepie. Sy bynaam is Dop. Hy’t vir die Bokke doel geskop.
En dan natuurlik die naamlose boer. Die stil man. Daar’s trane in sy oë. Hy sê hy’s die baas van ‘n bankrot-plaas, daar ver in die Klein-Karoo.
Tydlose karakters, universele figure, sad soos die lewe soms self.
“Yes they’re sharing a drink they call loneliness. But it’s better than drinking alone”.
Hier sit die manne.