Storiesmous – Voor dooiemansdeur

0
262

Dooie mense op ’n adreslys maak jou ongemaklik. Of dalk moet ek dit meer taktvol stel: Ek ervaar ’n vreemde beklemming as ek iemand soek op my selfoon en ek kom toevallig op ’n kennis af wat nie meer met ons is nie.

Chuck Lorre, daardie bekroonde skepper van komediereekse soos Two and a Half MenMike & MollyThe Big Bang Theory en The Kominsky Method, om maar enkeles te noem, het ook hieroor geskryf.

Ek het al voorheen na sy sogenaamde Vanity Cards verwys. Dit is daardie kort, gewoonlik tong-in-die-kies-rubriekies wat vir slegs enkele sekondes op die skerm verskyn aan die einde van elke episode van sy televisiereekse.

Chuck vertel (Vanity Card #589) hoedat hy, op soek na ’n nommer, deur die lys kontakte op sy foon gaan en op ’n kennis afkom wat al dood is. “Ek het van hom gehou,” vertel hy, “maar om die een of ander rede het ons nooit groot vriende geword nie.”
Dis mos maar soos dit gaan in die lewe. Jy sê so dikwels vir iemand “Ons moet ’n bietjie kuier”, of “Wanneer drink ons ’n koffietjie?” en dan kom daar nooit niks van nie.
Hoe dit ook al sy, Chuck wonder toe of hy die persoon se besonderhede moet verwyder. Maar dis nie so maklik nie. Om die delete-knoppie te druk, voel vir hom disrespekvol, selfs oneerbiedig.

“To die is one thing, to be deleted quite another.” En wat doen hy? Hy bél die nommer! “It went to voicemail (thank God).”

Toe los hy maar ’n boodskap waarin hy sê hy’s jammer hulle het mekaar nie beter leer ken nie en nooit by daardie koffie of ete uitgekom nie. “When I hung up, I felt a small bit of closure.”

Net hierna lui sy foon. Hy word yskoud. Dis die dooie vriend se nommer. ”It was his son. He was confused as to why I’d called his late father.” Toe antwoord Chuck: “Ons moet een of ander tyd koffie gaan drink, of dalk ietsie eet, dan verduidelik ek vir jou.”

Albé Grobelaar