Storiesmous: Platgetrapte pennies, ‘n stoomlokomotief, die Army-treine. De Aar se stasie.

0
2122

Platgetrapte pennies, ’n stoomlokomotief, die Armytreine. De Aar se stasie.

My eie treinstorie dateer uit 1975. Dit was nog die tyd van die ou S.A.S. en H. Pas klaar met my eerste jaar op universiteit, lekker breëbors nadat ek die gevreesde Grieks en Hebreeus deurgekom het, begin ek vakansiewerk soek.

Ek sou veel eerder op ’n strand êrens in Natal gaan rondlê, maar ’n man het geld nodig. Uiteindelik slaan ek ’n “pos” los op die spoorweë. Nie as ’n kelner op die Bloutrein nie (my eerste keuse). Nee, die “aanstelling” is in die hawe van Port-Elizabeth.En my indrukwekkende titel: Vlagman.

Vir die volgende twee maande sit ek op ’n seilstoel langs die spooroorgange in die hawe met ’n vlag in die hand. As daar af en toe ’n kar en ’n rangeertrok gelyktydig aankom, dan waai ek my vlag. Sewe dae ’n week. Twaalf uur aan, twaalf uur af. Een week dagskof, een week nagskof.

Ek leer die harde spoorwegmanne ken. Die shunters op hul radio’s. “Okey, Drywer, stoot mar agtertoeeeeee! Hokaai!! Hookaai!! Couplingkoppellll!” Snags, as dit stil is, speel hulle Crowns & Anchors, ’n vreemde dobbelspel waarvan die base nie mag weet nie.

En dan was daar Oom Johnny, my “opsiener”. Hy was heeltyds vlagman. By hom het ek dinge geleer waarvan my teologieprofessore niks geweet het nie. Soos van DeeTees.

“Boetie,” vertel hy my een nag, “ek sit nog so en kyk vir my voet, toe’s daai mannetjies op my!” Hy sluk aan sy koffie. “Duisende van hulle. Almal met net een oog.” Ek luister verstom. “En hulle storm teen my been op. Die hele lot. Hulle traai my wurg. Ek dag hulle maak my vrek!”

Delirium tremens. DTs. Oom Johnny was ’n alkoholis. En dalk was sy stories net die medisyne wat ’n onskuldige jong predikant-studentjie nodig gehad het. “Jy moet ligloop virrie hardehout.” Ek hóór nog Oom Johnny se krakerige stem. “Brannewyn is ’n bliksem!” – Albé Grobbelaar