Storiesmous – Ek het ʼn sagte plekkie vir Teddie

0
1253

Teddie was ‘n yster! Amerika se 26ste en jongste president tot op hede, Theodore Roosevelt, die man na wie die teddiebeer vernoem is, was ‘n flambojante en formidabele figuur.

As staatsman staan hy nie net kop en skouers bo sy tydgenote uit nie, maar ook bo byna elke president voor én na hom.
Ek het my die afgelope paar weke met eindelose verwondering verdiep in ‘n skitterende Netflix-reeks. The Roosevelts: An Intimate History, vervaardig deur die bekroonde dokumentêre filmmaker, Ken Burns, is n absolute móét vir enigiemand wat lief is vir geskiedenis.

Daar staan ‘n magdom “eerstes” agter die naam van Teddie Roosevelt. Hy was nie net die eerste Amerikaanse president wat gevlieg het nie, maar ook die eerste wat in ‘n duikboot gevaar het. Hy was die eerste president aan wie die Nobelprys vir Vrede toegeken is.
Sy wye reeks belangstellings het, naas die politiek en geskiedenis, ook taksidermie, ornitologie, natuurbewaring, boerdery, bosbou, aardrykskunde, jag én skryf ingesluit. (Hy was maar 23 jaar oud toe The Naval War of 1812 uit sy pen verskyn het, ‘n omvattende werk wat ‘n groot invloed op die uitbou van die Amerikaanse vloot sou hê.)
Daar is so baie wat ‘n mens oor Teddy Roosevelt kan vertel. Kom ons volstaan met net een verstommende staaltjie. In Oktober 1912 spreek hy ‘n reuseskare in Milwaukee, Wisconsin, toe. Hy het skaars begin praat, toe daar ‘n skoot klap.

Dit is ‘n sluipmoordaanslag en die koeël uit die .38 Colt-rewolwer van ‘n Duitse immigrant tref Teddy in die bors. Hy voel aan die wond, maak seker dat daar nie bloed uit sy mond kom nie (wat beteken sy longe is nie getref nie), en toe vra hy die polisie om nie sy aanvaller te beseer nie. Hy stel die skare gerus en, met bloed wat oor sy hemp stroom, spreek hy hulle vir ‘n volle NEGENTIG MINUTE toe voordat hy mediese hulp aanvaar.
“Formidabel” kom nie naby ‘n een-woord-beskrywing van hierdie rots van ‘n man nie. Washington, Jefferson en Lincoln kan trots wees dat hulle saam met Teddy in die kranse van Mount Rushmore verewig is.