Storiesmous – Digitale speletjies is nie meer kinderspeletjies nie

0
366

Ons het nie destyds X-bokse of Nintendos of PlayStations gehad nie. En ook nie selfone nie. As jy ‘n pel wou bel moes jy eers by Tant Mien by die handsentrale verbykom. “Het jy nie huiswerk nie?” sou sy kwaai vra as jy daai slinger gedraai het. “Weet jou pa hoe baie jy bel as hy by die werk is?”

Daar was toentertyd soveel speletjies wat ons uit die kwaad gehou het. Dit bly vir my hartseer dat hulle binne net een geslag verdwyn het. My seuns het nog nooit van Blikaspaai, Boompie-verplant, Donkerkamertjie, Telefoontjie of Toktokkie gehoor nie. Toe ek hulle vra ook Bok-bok Staan Styf, het hulle hul oë gerol. “Wat nou?” wou ek vies weet. “Dis ‘n soort kondoom, Pa,” het die een gegrinnik.

Giffie en Kennetjie was my gunstelinge tydens pouses daar by die laerskool op Vrede. Albasters (aainies) was ook lekker, maar net totdat Okkie Ras een oggend met ‘n monster van ‘n ghoen daar aangekom het wat sy pa, ‘n spoorwegman, iewers uit ‘n trein se onderstel gehaal het.

Ons het nooit gedink Kennetjie is gevaarlik nie. Jy moes net jou koes ken as jy te naby staan en daardie kort dwarsstok kom woer-woer aangevlieg. Kennetjie was die platteland se krieket, en dit het jou baie gou oog-hand-koördinasie geleer. Ek onthou die name van die verskillende maniere waarop jy die dwarsstok moes hanteer voor jy slaan. Toontjie het beteken jy laat rus die stok op jou een voet se tone. Dan skiet jy hom op in die lug, en jy slaan hom so ver moontlik weg van die ander spelers af. Daar was ogie, vuisie, oortjie en ellie vir elmboog. Ure en ure se vreugde.

‘n Baie gewilde tafelspeletjie, wat ons dikwels saans na ete gespeel het, was Name, Vanne, Diere, Dorpe. ‘n Letter van die alfabet is gekies en dan moes almal so vinnig moontlik ‘n naam, van, dier en dorp, wat met daardie letter begin, neerskryf. Groot pret.
Ons het nie X-bokse, Nintendos, PlayStations of selfone gehad nie. Ons het mekaar gehad.

Albé Grobelaar