Storiesmous – 30 Julie 2016

0
Storiesmous – 30 Julie 2016

Maandag is dit die Amerikaners se nasionale dag, Independence Day. Interessant dat nie minder nie as drie van hul eerste vyf presidente op Onafhanklik-heidsdag oorlede is. John Adams en Thomas Jefferson het op dieselfde dag, 4 Julie 1826, presies vyftig jaar ná onafhanklikheid, gesterf. En toe, op 4 Julie 1831, is ook pres. James Monroe oorlede.
Vir my is 4 Julie om ‘n veel minder historiese rede ‘n hoofletterdag. My eerste (en enigste) kleinkind, Katie, is op hierdie dag verlede jaar gebore. Oor haar kan ek ure lank praat en baie foto’s wys. (Vra maar my Facebook-vrinne!)
Maar ek wil om ‘n heel ander rede vandag by hierdie datum stilstaan. Ek wil hulde bring aan ‘n liewe vriend en kollega, ‘n bekende en gerespekteerde Bloemfonteiner, wat nou Maandag, op 4 Julie 2016, sy sewentigste verjaardag vier.
Christo Olivier het geen bekendstelling nodig nie. As deurwinterde radio- en televisieman is hy alombekend en het hy oor die jare ‘n geliefde en huishoudelike naam geword. Ek het hom leer ken toe ek as jong, onervare omroepertjie byna veertig jaar gelede by die SAUK begin werk het. Ek het onder hom gewerk toe hy as sportorganiseerder by Gerhard Viviers oorgeneem het. Hy was my bestuurder as radiohoof toe ons die nuwe Radio Oranje van die grond af moes kry. En hy was ook my baas toe hy as SAUK-streekdirekteur in die Vrystaat en Noord-Kaapland in moeilike tye leiding moes gee. Ons loop ‘n lang pad saam.
‘n Mens gooi maklik mooi woorde rond op iemand se sewentigste verjaardag. Maar as ek die uitdrukking “onkreukbare integriteit” gebruik om hom te beskryf, dan kom dit diep uit my hart uit. Christo Olivier, “die langste Afrikaanse omroeper in die wêreld”, soos Manie Kitching hom altyd genoem het, se kaliber is dun gesaai. Hy het nie net my lewe nie, maar ook dié van talle ander kollegas en vriende oor baie jare eindeloos verryk en verruim.
Baie geluk, Christo, met hierdie mylpaal Maandag. Jou invloed op soveel van ons se lewens is onuitwisbaar. Daarvoor kan ons net opreg dankie sê.

 Christo Olivier
Christo Olivier

No posts to display