E Copy

Date:

Storiesmous – 29 September 2016

Verjaardagwense in die VF-jare (Voor Facebook) was altyd ‘n vreugde. Op die verjaardagkalendertjie agter die toilet se deur kon jy ver vooruit sien wie verjaar wanneer. Daar was ook net ‘n paar verjaardae elke maand. Elkeen was spesiaal. En daar was genoeg tyd om ‘n mooi kaartjie te gaan koop, iets oorspronkliks (en persóónliks) binne-in te skryf en dit dan in die pos te gooi.
Die elektroniese era het die speelveld én die spelreëls onherroeplik verander. Wanneer laas het jy ‘n verjaardagkaartjie gekoop of deur die pos ontvang? Kan jy onthou wanneer jy laas ‘n seël op ‘n koevert geplak het? Het enigiemand nog ‘n verjaardagalmanak? Stil-stil, soos met so baie ander dinge uit ons jonger jare, het ook hierdie mooi, gevestigde gewoontes in die niet verdwyn.
Facebook-verjaardagwense is ‘n uitdaging. Daar is boonop nie net ‘n paar gelukwense per maand soos in die ou dae nie. Dis sommer vier of vyf elke dag. Ek raak skoon gespanne as ek in die oggend my rekenaar oopmaak en die lys met name verskyn onder die opskrif “Friends’ Birthdays”. (Deesdae is daar sommer nog twee ekstra lyste by: “Upcoming Birthdays” en, erger nog, “Recent Birthdays”.)
Hoe wens ‘n mens iemand sinvol geluk op sosiale media? Wat kan jy skryf wat darem so effens sal uitstaan bo die ander 300-plus afgesaagde boodskappe wat jou Facebook-vriend gaan ontvang? Dis nie moeilik om twee of drie mooi, oorspronklike sinnetjies uit te dink wat opreg klink en uit die hart uit kom nie. Maar om dit twee of drie keer elke dag te doen, kos meer as net verbeelding. En dan vertel die duiwel nog gereeld vir jou Piet gaan agterkom jou pragtige, oorspronklike en persoonlike boodskappie vir hom vandag stem woordeliks ooreen met Koos se boodskap van gister, of Klaas s’n van eergister.
Dalk moet ‘n mens dit kort en kragtig maak. Die één boodskap wat op my verjaardag nou onlangs uitgestaan het tussen die 300-plus ander, was nie lank nie. Net drie letters. “HBD.” Dit het kopkrap gekos om te ontrafel. En toe kliek ek. “Happy Birthday”.

Share post:

Popular

More like this
Related

Ondersteun Corban se stamselbehandeling

Corban Pretorius is op die ouderdom van 18 maande...

‘Robin in the Hood’ brings laughs and magic to the Rabbit Studio stage this June

Xander Art Productions, in association with The Rabbit Theatre...

Local short film ‘Vultures’ shines at Cannes

A local short film, “Vultures”, has soared to international...

PROMOSIE: ’n Kwarteeu van kuns en kultuur: Vrystaat Kunstefees vier 25 jaar

In die hart van die Vrystaat vier die Vrystaat...