Storiesmous – 23 July 2015

0
807

Wat is dit met al die woede deesdae op ons paaie? Ek is van nature ’n kalm en bedaarde mens. Maar laat ek net agter daai stuurwiel inskuif, dan is dit asof iets onbeheerbaars my kwaadwees-knoppie aansit. En ek kan dit nie verklaar nie.
Ek is kwaad vir die karre voor my, en ek is kwaad vir die karre agter my. As daar meer bane is, dan is ek sommer die hel in vir die idiote links en regs van my ook. As ek in die stad sewentig wil ry, en ’n dom esel voor my hou by die spoed, dan is ek onmiddellik de bliksem in! (Verskoon my Frans.)
En as ék die dag sestig wil ry, soos die snelperk bepaal, en iemand kom net effens vinniger van agter af aan, dan trap ek sommer rem om hom in sy spore (of in sy wiele) te stuit. Wie de donner is hy om so te jaag?
Wat my kwaadwees tot kookpunt toe opstoot, is iemand wat voor my indraai. (Van selfone práát ek nie eens nie). Ek druk toeter, vloek en wys tekens. Maar dit lyk nie asof my uitbarstings enige invloed het nie. Dis elke keer ék wat met hartkloppings en hoë bloeddruk by die huis aankom.
Wat erg is vir my is die besef dat ek in Bloemfontein bly, waar ’n rit van tien minute in spitstyd as ’n nagmerrie beskou word. Hoe sou ek ooit in ’n Johannesburg of Kaapstad, waar mense ure elke dag in die verkeer vassit, oorleef het?
Sielkundiges wat die die goed ontleed, het seker allerhande verklarings hiervoor. Dalk is die kar se kajuit ’n veilige kapsule waar jy al jou onderdrukte aggressie kan uitlewe. Dalk gee jou motor jou ’n magsgevoel. Ek weet nie. Maar ek weet dat dit nie so kan aangaan nie. Iemand gaan my eendag aftrek, en dan word ek deel van die padwoede-statistiek.
Ek werk hard aan myself. Miskien moet ek ’n Zen-kursus oorweeg. Hulle het sulke mooi aanhalings. “You will not be punished for your anger, you will be punished by your anger.”