Storiesmous – 20 August 2015

0
1001

In hierdie tye van vandag moet ’n mens maar baie mooi dink voordat jy enigiets sê of doen. Veral as jy iets met ander deel, selfs in ’n eenvoudige e-possie of WhatsApp. (Ek práát nie eens van sosiale media nie!) Iewers is daar iemand wat loer, en voordat jy jou kan kry, is jy kniediep in die knoffel.
Ek is nou al by die punt waar ek te bang is om sekere name selfs net te nóém. Jy weet nie watter internasionale agentskap se hoogs-gesofistikeerde, geheime elektroniese soekenjins ’n digitale rooi vlaggie agter jou verborge profiel plaas nie. Diep in ’n donker, ondergrondse, supergeheime bunker, êrens tussen rye reuse-rekenaars, sit hy jou en dophou.
Ek google nie eens ’n naam soos Djoeliën Assaangh van Wiki-lekkasies nie. (Ek spel doelbewus verkeerd sodat hulle algoritmes my nie kan ‘optel’ nie.) Of daardie outjie met die bril wat oorgeloop het na die Russe toe, Eduard Snoudon (spelling aangepas). As hulle net vaagweg vermoed jy stel enigsins in hierdie knape belang, kan jy maar jou volgende visum-aansoek op jou maag skryf en met jou hemp afvee.
Ek het mos die fout gemaak om in ’n Arabiese kleed en Jazzer Arravat-kopdoek (spelling!) ’n maskerbal by te woon ’n paar jaar gelede. Welige swart baard, de lot. Wen toe ook die aand die eerste prys. Dalk sou ek nog daarmee weggekom het as ek nie so ydel was nie. Toe wil ek mos vir die hele wêreld op Facebook wys hoe oulik ek lyk. Daardie lank beplande toer in die VSA het ek nou maar verruil vir ’n trippie langs die Tuinroete.
Daar was nog my ligte Duitse mistykie ook. Dit was toe ek daai einste Arabiese baard en snor van my afgeskeer het. Sommer vir die grap los ek toe so ’n kort, swart snorretjie onder my neus en ek neem uit elke moontlike hoek ’n selfie. Stuur dit vir almal. “Tjek vir Adolph!” (Kom ons los liewer die H-woord). Eers later het ek gekliek dat ook Israel my nooit weer daar gaan toelaat nie.
Berou kom altyd te laat.