Ons Baby Boomers wou van jongs af onafhanklik wees. Vandag se Millennials is anders. As jy hulle nie met geweld uit die huis verwyder nie, sal hulle vasskop tot daar niks van jou laaste pensioengeldjies oor is nie.
Ek wou vroeg al my eie geld verdien. My eerste werk op Vrede was as ‘n sjef, en ek was in Standerd 3. Die vergoeding: Vyftig sent per maand. Ek moes vir die hele gesin soggens pap maak. Poetoepap. My opleiding het ek by die hoofsjef, my ma, gekry. Daar was besliste leemtes in haar kursus. Ek is nooit ingelig dat ‘n mens meer as een soort meel kry nie. Die gevolg was dat die eerste oggend se “pap” van koekmeel gemaak was.
In Standerd 7 het ek die klassieke fout gemaak om agter geld aan van werk te verander. Ons het toe op Senekal gebly. Ses rand per maand was ‘n fortuin. Die Griek se melkery het ‘n vakature gehad vir ‘n afleweraar. My afleweringsvoertuig (tussen 04:00 en 06:00 elke oggend voor skool) was ‘n driewielfiets met ‘n reuse-“mandjie” voorop waarin daar ses melkkratte gepas het. Mense het daardie tyd nog plastiese koepons binne-in die leë glasbottels op hul stoepe uitgesit. Dan vat jy die “empties” en sit die regte getal vól bottels vir hulle neer.
Ek sou net drie maande hou in hierdie pos. Nie oor die winteroggende ver onder vriespunt was nie. Nie omdat die poncho wat my ma vir my van ‘n ou kombers gemaak het (nes Clint Eastwood s’n in “A Fistful of Dollars”) so min gehelp het teen die koue nie. Nee, dit was alles daai draai se skuld – net daar waar Langestraat by Voortrekkerweg aansluit. Lekker windgat het ek elke oggend volspoed om daai hoek gejaag, perfek gebalanseer met een van die twee voorwiele hoog in die lug. Tot daardie laaste oggend. Toe ek tussen die glasstukke opstaan en met ‘n bebloede hand die yskoue melk van my poncho afvee, het ek geweet daar’s moeilikheid.
Dit was die enigste keer ooit in my lewe dat ek ge-“fire” is.