Storiesmous – 18 Mei 2016

0
1342

Dis nie moeilik om in hierdie dae swaarmoedig te wees nie. ‘n Ou vriend van my, skrywer Rudie van Rensburg, het onlangs in ‘n Kaapse koerant sommer tjoef-tjaf tagtig dinge gelys wat hom omkrap. Van ‘n korrupte president en taxibestuurders, tot by renosterstropers en Eskomtariewe.
Maar die glas kán ook half vol wees. “Welgeluksalig”, soos die ou Bybel dit vertaal het, beteken sommer drie maal gelukkig. So het dominee Cloete daar op Vrede dit vir ons Sondagskoolklas verduidelik. Onthou jy nog “Pollyanna”, die rolprent uit daardie selfde tyd? Hayley Mills se kinderkarakter wat so mooi gesê het: “Always play the glad game.” En natuurlik Julie Andrews met “My Favorite Things”: “When the dog bites, when the bee stings, when I’m feeling sad, I simply remember my favorite things, And then I don’t feel so bad.”
Hier’s nie genoeg ruimte om alles wat my gelukkig maak, te lys nie. Die reuk van beeste op ‘n nat veld. Verliefde studente hand-aan-hand op die kampus. ‘n Warm bad op ‘n koue aand. Slap tjips met baie asyn. ‘n Episode van M*A*S*H. Die N1 se blou streep deur die Karoo op ‘n motorfiets. Duiwe wat koer op ‘n Saterdagoggend. Filterkoffie met warm melk.
Ek wens hier was meer plek. Sonsondergange. (Sal nie help ek jok oor sonsopkomste nie … ) Wolke. Ou treinspore. Sonneblomme. Vetterige beesbiltong. Die ongerepte strand op Cintsa (én die skaam Knysna Loerie). My ses kinders se slimmighede elke dag op ons WhatsApp-groepie. Kaartaande met my Brug-vrinne. Die klank van ‘n Listerenjin. Griekse slaai met baie feta en olywe.
Ou flieks van Jack Nicholson. Blokkiesraaisels. ‘n Onverwagte Beatles-liedjie oor die radio. Ons skaaphond se dromerige oë as ek sy kop streel. My nuwe iPhone. Herfsblare. Grenadellakoek (as Tim Noakes nie kyk nie). My laatlam wat klavier speel. My kleindogter wat oopmond vir haar oupa lag, met daai twee voortande van haar.
En dan my vrou. Elke aand voordat sy aan die slaap raak, sê sy vir my: “Ek is baie lief vir jou.” En dan druk sy my. Die glas is nie half vol nie. My beker loop oor.