Storiesmous – 17 Maart 2016

0
1665

Langenhovenpark, so het ek tot laasweek nog geglo, het loshande die vrotste motorbestuurders in die hele land. Ek was vas van plan om Langenhovenpark genadeloos te ontmasker. Jare lank het ek stilgebly, sou ek skryf. Maar iewers moet die kookpot se deksel begin lig. Só kan dit nie aangaan nie.
Uit die hoogte sou ek julle bykom. Moenie eens probéér om my moerigheid te temper deur vir Langenhoven aan te haal nie. Sagmoedige Neelsie, na wie jul plek vernoem is, was glad nie so sagmoedig nie. Hy mag dalk bekend wees vir ‘n paar mooi gesegdetjies oor vergifnis en Job se geduld en goeie buurmanskap, maar Kerneels kon ook stewige opstoppers uitdeel. Dit was hy wat gesê het: ‘Moenie terugslaan nie, slaan eerste.’ Ek sou nie net eerste slaan nie. Dit sou ‘n uitklophou wees.
So werk ek my op. Maar die wiel draai. Onthou die balk in jou eie oog, het my liewe moeder altyd uit die Bybel aangehaal.
Dit gaan alles oor daardie simpel sirkeltjies wat letterlik op elke tweede straathoek in LHP aangebring is. Ek het oor die jare hoeveel keer amper in karre vasgery wat hulle nie steur aan verkeersregulasies nie. Wie op aarde het julle Langenhovenparkers leer bestuur? Waar koop julle jul lisensies? Weet julle nie dat ‘n mens ALTYD by ‘n sirkel na regs toegee nie?
Driekwart geskryf aan my tirade besluit ek om dit nog erger te maak. Ek gaan julle, by wyse van spreke, met die wetboek gooi. Die amptelike padregulasies.
“By ‘n minisirkel gee jy altyd voorrang aan voertuie wat enige toegeestreep voor jou kruis.” Só lees die boek. Ek steier terug. En op ‘n ander plek, toe ek koorsig soek na bewyse dat ék reg en júlle verkeerd is: “Essentially what this means, is that the first vehicle to cross the line has the right of way. This works in much the same way as a four-way stop.”
Sorrie, Langenhovenpark. Elke outjie maak ‘n foutjie. Mea culpa. (Ek is net baie bly dat niemand my nog gebliksem het daar by een van julle sirkeltjies nie.)