My rugbyloopbaan het nooit die hoogtes bereik wat ek wéét ek verdien het nie. Ek moes Springbok geword het. Ek sóú die Boktrui oor my kop getrek het, as ’n paar dingetjies net effens anders uitgedraai het.
AS is verbrande hout, ek weet. Maar daar is ’n paar ASSE wat die lotsbestemming van my rugbyroem bepaal het. As ek net nie op die platteland op skool was nie. As ek in ’n stad was, sou my talente raakgesien gewees het. My spoed, my binneswenk, my veilige hande, daai lynskoppe, my tackles. Maar die noodlot (én Volkskas, waar my pa gewerk het) het my van die een klein dorpie na die ander laat trek. En orals is ek misgekyk.
As ek nie destyds so ’n klein maergat was nie, sou dinge soveel anders uitgedraai het. As daai donnerse Giep Hayward, die eerste span se skrumskakel, net op ’n ander dorp gebly het, sou ek die boonste sport bereik het. Want in die eerste span sou ek uitgestaan het.
As ek nie so onselfsugtig was nie, kon dinge ook heeltemal anders verloop het. Ek sou beslis meer drieë gedruk het. Dis van al die balle uitgee, om ánder ouens ’n kans te gee, dat ek net twee keer self gaan druk het. (Een keer in st. 1 op Vrede, en toe weer in st. 9 op Vryburg). Ek onthou my twee pragdrieë in die fynste besonderhede.
En dan was daar Meneer Blom, die eerstespan se afrigter. AS ek hom nie daai middag by die kantlyn uitgetackle het nie, kon dinge ook anders uitgedraai het. Hy’t jare tevore ’n keer of wat vir Griekwas uitgedraf, en wou toe afshow by die oefening. “Laat ék julle wys hoe ’n vleuel óm sy man moet kom,” spog hy toe hy in die agterlyn gaan staan. En toe kry ek hom op die kruisverdediging. Skouer onder die kortrib. Volspoed. Sal nooit sy gesig vergeet toe hy mank en vol stof op die atletiekbaan opstaan nie. Daarna kon ek vergeet van eerste span.
AS is verbrande hout. Maar dit kon soveel anders gewees het…
Date:






