Ek het ‘n klasmaat gehad wat, ten spyte van my beste pogings, altyd beter opstelle as ek kon skryf. Adriaan. Ons het ná skool kontak verloor. Totdat ek nou die dag hoor hy is lankal oorlede.
Tussen ‘n klomp ou lêers in ‘n boks kom ek onlangs op ‘n oefeningboek af met een van sy opstelle in. Hy was 17 toe hy dit geskryf het. Hoe dit by my beland het, kan ek nie onthou nie. Ek deel dit graag, sonder enige veranderinge:
Alleen sit sy in die beknopte slaapkamertjie van hul deurmekaar woonstel. Die almanakprent van die huilende dogtertjie bekoor haar nie meer nie. Sy sien nie die blink traan op die dogtertjie se wang raak nie, alhoewel dit is waarna sy kyk. Haar houding spreek van afwagting. Sy wag. Op daardie stemme.
Toe elf slae die afgeleefde swartwoudklok woes op die bedkas laat vibreer, ruk sy. Hulle is weer daar. Die stemme. Dieselfde stemme as gister, as eergister, as eergister se eergister. Nog hoor sy hulle nie, maar sy weet dat hulle daar is.
Toe verbreek die ou man se stem die wit stilte langs die kaal gloeilampie teen die plafon. Krakerig en grof, soos elke aand. “Ons sal haar moet wegneem.” Dan volg sy oumenslaggie. Honend. Vir die eerste keer bly sy nie vasgenael op die bed sit nie, maar vlieg met wydgesperde oë op. Bewend en koud tot in haar murg.
Toe antwoord die tweede stem. Sag, beskaafd en geheimsinnig. “Ja, die ander wag al op haar. Hulle wag al lank op haar.”
Dan gee haar binneste wese mee en gaan daar iets in haar los.
“Stop jou blêddie getjank, Love,” beveel die hemplose hippie van langsaan die rukkende meisie aan sy sy. Hulle staan klouerig tussen die ander woonstelbewoners en kyk na die polisiekonstabels wat haar met moeite wegneem. Sy hou aan gil. “Nee! Nee! Help my! Neeeee!”
“Nog enetjie met bees innie bonnet,” fluister ‘n ouvrou met krullers in die hare.
“Wonder hoe lank die next couple gaan hou,” beaam haar man.
“Foei tog,” antwoord die ouvrou.
Date: