Gholf is en bly ’n unieke sport. Dis waarskynlik die enigste sportsoort waar jy nooit twee keer presies dieselfde aksie uitvoer nie. Dink ’n bietjie daaroor. Die veertien stokke beteken klaar veertien variasies. Die veranderlikes is eindeloos. Van die plek waar jou bal lê, die wind en die weer, die lengte van die gras, elke stokkie en klippie langs jou bal, tot die afstand wat jy probeer slaan. En dan speel professionele spelers nog elke week op ’n ander baan ook.
Gholf en alles wat daarmee gepaard gaan, bly my fassineer. Ek raak liries oor Augusta, oor St Andrews, en Pebble Beach. Hoeveel eindelose vreugde het die groot name nie oor soveel dekades gebring nie. En die voorreg dat ek twee van die Big Three persoonlik kon ontmoet – Player en Palmer. Net Nicklaus se hand moet ek nog skud.
My pa het my aan gholf voorgestel. Dit was ná sy eerste hartaanval. Ons huisdokter op Vrede, oom Harry Neethling, het vir hom gesê hy moet liewer maar die tennis los en begin gholf speel. En toe behaal hy sy eerste voëltjie in die heel eerste maand. Die dorp het gegons oor die bankbestuurder wat die setperk gemis en ’n vlieënde duif doodgeslaan het.
Maar die mooiste storie wat ek uit daardie jare onthou, was die insident met oom Bokkie Craven se joggie. Oom Bokkie was ’n goeie gholfspeler, maar op dié spesifieke dag wou niks reg loop nie. En hoe slegter hy speel, hoe meer giggel sy sakdraer vir hom. Totdat oom Bokkie op die laaste putjie, ’n kort syfer 3 oor die spruit, finaal sy humeur verloor toe hy die bal in die water slaan en die joggie weer staan en grinnik. “Dê,” snou hy die knaap toe en gooi sy 9-yster vir hom. “Kyk of jy dit donners beter kan doen!”
Waarop die caddie die stok vat, aanlê, sy agterstewe ’n paar keer windmakerig links en regs swaai, en lostrek.
Oom Bokkie se woorde in die klubhuis aan my pa sal ek altyd onthou: “Toe slaat die klein bliksem jou wragtag ’n Hole in One!”
Date: