Storiemous – 29 October 2015

0
763

As jy ’n man is, ’n ware man, dan hou jy van karre. Klaar. Jy ken karre. Jy lees op oor karre. Jy praat saam oor elke nuwe model op die mark. En jy kan die terme rondgooi langs die braaivleisvuur. Van die kW en die Nm en die R.P.M, tot by die kleppe, die dubbele bonokasse en die drive-by-wire (wat op aarde dit ook al mag wees).
Ek is nie ’n ware man nie. Om die een of ander rede het daardie ekstase oor alles met vier wiele by my verbygegaan. ’n Kar moet my van punt A na punt B vat, en daar moet ’n radio en ’n aircon in wees. En as hy hou, dan ry ek hom vir twintig jaar.

Dis nie ’n genetiese ding nie. My pa kon nie by ’n mooi motor verbyloop nie. Ons het elke jaar ’n ander kar gehad. Gewoonlik tweedehandse modelle wat hy (altyd!) iewers teen ’n bargain raakgeloop het. Daar was die blou Ford met die vlerke, waarmee ons hele gesin van ses (én nog twee maatjies van my susters) met ’n tent op die dak af Kaap toe is vir ’n vakansie. Daar was die grys Borgward (wat sy eie stel tasse gehad het), die goue Rambler, die stompgat Zephyr, die onpraktiese geel Karmann Ghia met die linkerstuur en die vinyl dak. En dan nog die liewe DKW’tjie met daai purrr-purrr-purrr-purrr-enjin en die voorwielaandrywing.

Maar die pièce de résistance was die silwerblou Chev Caprice toe ek in matriek was. Agt silinders, outomatiese ratkas, kragstuur, leersitplekke, elektriese vensters, misligte – my pa se droommotor.
Dalk sou ek ook meer van karre gehou het as dit nie vir die ding met die Sierra was nie. My eerste maatskappymotor. Splinternuut. Ek was só trots toe ek met die vaartbelynde Ford by die werk aankom. Dit was nog by die SAUK in Seepunt. Almal kom uit om te kom kyk. En voordat iemand iets kan sê, haak Thinus de Villiers af: “Lyk nes ’n Cortina met ’n kondoom oor!”

Ek het nooit heeltemal hiervan herstel nie.