Storiemous – 26 November 2015

0
857

Elke mens het ’n storie. Sonder uitsondering. Dis net dat nie almal hul storie wil vertel nie. En ek wens dit was nie so nie. Ek wens mense wou meer moeite doen met hul lewensverhale.
Ek gebruik altyd my oupas as voorbeeld. Ek het hulle nooit geken nie. Hulle is lank voor my geboorte oorlede. Maar nou, soos ek ouer word, het ek ’n intense behoefte om meer te weet van die lief en leed wat húl lewens gevorm het.
Hulle het altwee as jongmans in die Anglo-Boereoorlog geveg. Hulle was tot met die vredesluiting in die saal. Bittereinders. Dit het ek by my pa en my ooms gehoor. Self het hulle nie ’n enkele nota hieroor nagelaat nie.
Van Oupa van Wyk besit ek vandag ’n unieke Engelse swaard wat hy blykbaar by ’n gesneuwelde offisier ná die Slag van Spioenkop afgeneem het. En ook ’n pragtige houtbeeldjie van ’n leeu wat hy glo op kommando met sy knipmes uitgekerf het. Dis die leeu op die Lion Safety Matches-boksie. Kosbaar. Hoe graag sou ek nie die presiese agtergrond wou ken nie.
Van Oupa Grobbelaar het ek die bandelier en die verkyker wat hy blykbaar vir die hele duur van die oorlog by hom gehad het, ook tydens die Slag van Magersfontein. Ek wens ek het meer inligting gehad.
Dit gaan nie net daaroor dat hulle toevallig betrokke was by ’n groot historiese gebeurtenis nie. Ek sou so graag ook meer van hul lewens ná die oorlog wou weet. Hoe het hulle my oumas ontmoet? Waar het hulle orals gebly? Hoeveel staaltjies sou hulle nie kon vertel oor hul jagtogte nie, oor hul gewere, oor die boerdery, die droogtes, die depressiejare, nagmaalnaweke, politieke vergaderings, hul eerste motors.
Almal het ’n storie. Dit moet net opgeteken word. Vergeet van daardie monumentale outobiogafie wat die literêre wêreld stormenderhand gaan verower. Dit kan soveel eenvoudiger wees. Dit gaan oor daardie kleinkind of agterkleinkind wat dalk ’n honderd jaar van nou af gaan wens ’n oupa of ouma het meer as net ’n beeldjie van ’n leeu en ’n gehawende bandelier nagelaat.