E Copy

Date:

Stofwolke hang oor Rosestad

RUFUS BOTHA

Dit was stofwolke net waar jy kyk toe die land se voorste Motocross-jaers mekaar Saterdag en Sondag gepak het by die Nasionale Noord-teen-Suid-streekbyeenkoms wat by die Tempe-lughawe beslis is. Daar was ook heelparty buitelandse jaers in aksie.

Die kompetisie in die MX 50 Pro-afdeling waar manne van onder 9 mekaar opgekeil het, het toeskouers gaande gehad, veral die plaaslike toeskouers, want, die Bloemfonteinse knapie van die Laerskool Grey-kollege, Wian du Plooy, se tweestryd met die nasionale kampioen in dié afdeling, Chase Hanekom (Oos-Kaap) het oudergewoonte vir vuurwerk gesorg.

Dit het aanvanklik geblyk dat die Bloemfonteiner voor sy tuisskare vir Hanekom gaan troef in die algehele puntetelling, maar Hanekom is nie verniet die nasionale kampioen nie – sy veggees is iets om oor huis toe te skryf.

Du Plooy het in die eerste van die drie wedrenne die oorhand gekry en met Hanekom afgereken. Die opgewondenheid oor die oorwinning het skaars ingesink toe Hanekom in die tweede wedren vir Du Plooy klop.

Die tafel was gedek vir ‘n rillerstryd om die wenner te bepaal en hoewel dié twee ysters ten minste vier keer van voortou verwissel het, was ‘n oorwinning Du Plooy nie beskore nie.

Du Plooy, wat ‘n jaar jonger as Hanekom is, moes weer met die tweedeplek tevrede wees en laasgenoemde is as uiteindelike wenner gekroon. Hanekom se tweede-, eerste- en eersteplek het hom 72 wenpunte besorg en Du Plooy se eerste-, tweede- en tweedeplek was genoeg om 69 punte bymekaar te maak.

Dit was meer as genoeg om die derdeplek-jaer, James Thomson (Noordelike-streek) te troef. Thomson was in al drie wedrenne derde. In die MX-2-afdeling het die Vrystater Johan Vogelsang bestendig vertoon deur negende te eindig tussen die beste seniors in die land.

Dié afdeling is na ‘n wipplankstryd uiteindelik gewen deur die KwaZulu-Natal-jaer, Nicholas Adams.

Michael Kok (Noordelike streek) was tweede en Tristan Purdon (Oos-Kaap) derde.

Die Vrystaat se Barnie van Biljon het in die grootmeestersafdeling (MX-3) goed gejaag vir sy algehele derdeplek en in dieselfde asem kan die jaer van Harrismith, Samantha Spiers, tevrede voel met haar vierdeplek in die MX-afdeling vir senior vroue.

Share post:

Popular

More like this
Related

Blind DJ calls for equality in the entertainment industry

A local blind disc jockey from Thaba Nchu calls...

Pencil in – 15 May/15 Mei 2025

15 May: Food & Wine Pairing: Experience an unforgettable...

Koekela hosts charity baby shower to support Childline Free State

Childline Free State was the beneficiary of a charity...

NAMPO 2025: Pure plaaspret in Bothaville

Die 2025 NAMPO Oesdag gaan hierdie week volstoom voort...