Steyn en Pienaar bly by Cheetahs

0
299
Die Springbok-senter, Frans Steyn, het die Cheetahs bo 'n winsgewende kontrak in Japan gekies. FOTO: MORGAN PIEK

Die Toyota Cheetahs het die week ‘n reuse slag geslaan met die twee gesoute Springbokke, Frans Steyn en Ruan Pienaar, wat hulle kontrakte met die span verleng het. Albei spelers het op die gestippelde lyn geteken om hul rugby in die Vrystaat te speel tot minstens die einde van aanstaande jaar.

Pienaar sal 39 jaar oud wees wanneer sy kontrak met die Cheetahs verstryk terwyl Steyn onlangs sy verjaarsdag gevier het toe die Cheetahs in Bloemfontein vir die Sharks met 44-15 in die Curriebeker getroef het. Albei spelers erken dat hulle in die skemerjare van hul roemryke loopbane is en dat dit nou belangrik is om elke oomblik op die veld te geniet.
Steyn, wat sy rugby vir die grootste deel van sy loopbaan in die buiteland gespeel het, sê die gevoel dat jy iewers behoort was een van die groot redes om ‘n winsgewende aanbod in Japan van die hand te wys en by die Cheetahs te bly.

“… Oom Ross (Van Reenen) hulle, die mense in die gebou en die gevoel wat jy kry by die plek. Ek dink om iewers te werk en te voel daar is ‘n plek vir jou spreek meer as enigiets. Dit is vir my lekker om elke dag saam met Ruan ‘n koffie hier onder te drink, saam met Aranos (Coetzee) en ander ouens wat ek nogal goed ken hier. Gaan jy nou na ‘n ander plek dan moet jy nou weer van voor af begin.

“Ek sien uit na die tyd vorentoe. Om saam met Ruan nog vorentoe te gaan; ons het ‘n baie hegte band. Soos ek gesê het, dit it maar net mense wat een van die groot redes is om te bly.”

Pienaar sê op sy beurt dat dit ‘n groot eer is om te weet daar nog vertroue is in hulle en dat hulle albei hul loopbane kan klaarmaak by die span wat hulle “as laaities ondersteun het”.

“‘n Mense sal nooit sê nooit nie, maar hierdie is seker die laaste kontrak wat ek sal teken as ‘n speler. Ek weet darem nie of ek op 40 jaar oud nog rugby gaan speel nie… maar ek geniet dit nog. Ek voel dat ek nog kompeteer. Ek geniet dit nog om voor te berei vir wedstryde, ek geniet dit nog om te wen, en ek dink sodra daai vlammetjie begin uitgaan dan weet jy dit begin nou na die einde se kant staan.

“Maar, ek is baie opgewonde en bevoorreg dat Oom Ross en ‘coach’ Hawies (Fourie) nog voel dat beide ek en Frans het nog ‘n plek in die span en dat ons waarde kan bydra tot die Cheetahs. Vir ons albei is dit baie spesiaal om half te eindig waar dinge vir ons begin het.”

Alhoewel Pienaar ouer is as sy groot vriend het hul rugbyloopbane ‘n soortgelyke pad geloop met albei wat vir Grey-kollege gespeel het, asook Vrystaat op ouderdomsvlak, die Sharks, Montpellier (in Frankryk) en die Cheetahs.

Hulle was albei deel van die Springbokspan wat die 2007 Rugby Wêreldbeker in Frankryk gewen het. Steyn was ook deel van die seëvierende Bokke wat die Wêreldbeker in Japan gewen het in 2019.

Die enigste ander Suid-Afrikaaner om die Wêreldbeker twee keer te wen is nog ‘n Vrystaat grootte, Os du Randt. – MORGAN PIEK