“Die konsert gaan vir seker voort. Ons het die nodige veiligheidsmaatreëls getref en ons kan na ’n lekker konsert uitsien vanaand.”
Dit is die woorde van Dewald Louw van Afrikoon Produksies, wat die Steve Hofmeyr konsert reël. Die konsert, wat vanaand by die Kovsie-kerk plaasvind, is vroeër deur ’n beplande protesoptog deur studente van die Universiteit van die Vrystaat bedreig.
Louw het verder aan Courant gesê sekuriteitsmaatreëls vir die konsert is opgeskerp.
“Ek dink dit is belangrik om te noem dat die Kovsie-kerk ’n private instansie is en nie deur die universiteit besit word nie. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is reeds by die kerk om te verseker die konsert is veilig vir konsertgangers én die kunstenaar.”
“Ons doen wat ons kan om die konsert veilig te hou. Die konsert is reeds uitverkoop en oor die 1000 mense behoort die konsert by te woon. Met kontroversiële kunstenaars soos Steve sal daar altyd mense wees wat nie gelukkig is nie. Dit is nie iets wat ons kan hanteer nie,” sê Louw.
Kovsies se SR-president, Lindokuhle Ntuli, sê alhoewel hulle nog niks skriftelik van die studente ontvang het nie, is hulle wel bewus van die ongelukkigheid onder studente.
“Ons laat studente toe om ’n protesoptog te reël, alhoewel dit gedoen moet word in lyn met die waardes van die universiteit en die belange van die gemeenskap,” sê Ntuli.
Steve Hofmeyr kon nie vir kommentaar bereik word nie. – Mark Steenbok