Sterrewag open binnekort weer sy deure

0
Sterrewag open binnekort weer sy deure

MARINÉ JACOBS

Baie goeie nuus wag op Bloemfonteiners – die befaamde Sterrewag op Naval Hill open binnekort weer sy deure! Ná maande se beplanning en onderhandeling is die bal uiteindelik amptelik aan die rol en het bouers glo reeds op die terrein begin.

Die idee vir die heropening van die planetarium het begin toe Professor Matie Hoffman van die Universiteit van die Vrystaat (UV) met Coenie Erasmus van die Departement Ekonomiese Ontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake (DETEA) oor die konsep begin gesels het. So word die projek nou samewerkend deur die UV, DETEA en Mangaung Metro Munisipaliteit (MMM) gedoen.

Volgens ‘n bron sal hierdie die eerste digitale planetarium in die land wees. ‘n Gewone planetarium werk met skyfie-projektors en kan eintlik net vir sterrekunde gebruik word, terwyl die een wat binnekort op Naval Hill sal pryk, ‘n digitale een is wat vir enige fliek of vir opvoedkundige doeleindes gebruik word. Daar sal glo aanvanklik flieks oor sterrekunde en die ruimte gewys word en die teater sal ook dadelik in gebruik geneem word. Die voormalige 27ft Lamont Hussey teleskoop sal ook weer in gebruik geneem word.

Courant verneem dat ‘n amptelik seremonie by die Sterrewag gehou sal word tydens die ANC se Nasionale Verkiesingskonferensie hierdie maand, maar hieroor swyg die rolspelers van die projek vir eers. Intussen kan Bloemfonteiners uitsien na Mei 2013, wanneer die planetarium na verwagting voltooi sal wees.

No posts to display