Stap vir stap vir ROC Foundation

0
1813
Ingrid Paulus en Hildegardt Whites FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Die Reach Our Community Foundation (ROC) het op 26 Mei 2018 ‘n damestee en liefdadigheidskonsert by die UV-Kopanong-ouditorium (Kovsiekerk) gehou om amptelik ‘n nuwe opwindende vennootskap aan te kondig.
Spesiale gaste Hildegardt Whites en Ingrid Paulus, beter bekend as Bonita en Vanessa in die bekende SABC2-sepie, 7de Laan, het die gehoor op hul voete gehad terwyl hulle inspirerende boodskappe gedeel het.

Patrick Kaars, uitvoerende hoof van ROC, Burneline Kaars, Meloni Senosky, Hildegardt Whites, Ingrid Paulus en Angelo Mockie. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Paulus was vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer in die Rosestad. “ROC doen baie vir die gemeenskap en dit is iets wat baie gemeenskappe in Suid-Afrika nodig het,” het sy gesê. “ROC versorg kinders en rus hulle toe om hulself te verbeter.” Haar boodskap was om die lewe stap vir stap te neem, wat ook die tema van die geleentheid was, diep asem te haal en die pragtige oomblikke te geniet wat die lewe ons bring.
Die Laan se eie “blommemeisie”, Bonita, het die gehoor behoorlik op hul voete gehad terwyl sy haar hart uitgesing het.Whites wat ‘n ma is van ‘n pragtige eenjarige seun, het gesê dat sy sedert die geboorte van haar babaseuntjie meer wil gee en meer in gemeenskappe wil help. “Ek wil teruggee aan die gemeenskap en kinders, dit was nog altyd my ding. Mense moet onthou dat Rome nie in een dag gebou is nie. Met die Here aan jou kant, kan jy nie verkeerd gaan nie,” het Whites gesê.
ROC bedien ‘n multifunksionele gemeenskapsentrum wat weeskinders in Heidedal en omliggende gemeenskappe ondersteun, met die doel om aan hulle ‘n platform te gee om bo hul omstandighede uit te styg. Met behulp van ‘n gesinsgebaseerde, holistiese benadering tot kinder- en adolessente-ontwikkeling, spreek ROC die uitdagings soos armoede, familiewerkloosheid, impak van MIV/ VIGS, enkelouerskap of ‘n uitgebreide familie, gebrek aan ‘n toesighoudende persoon (hoofsaaklik in huishoudings), ‘n vyandige huisomgewing en fisieke en/of seksuele misbruik wat weeskinders en kwesbare kinders in die gesig staar, aan.

Hildegardt Whites en Ingrid Paulus FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Patrick Kaars, uitvoerende hoof van ROC, glo dat een van die belangrikste boustene in ROC vennootskappe is en sien uit na ‘n vennootskap met die Universiteit van die Vrystaat, wat met hul nuwe program geloods is. “‘n Vennootskap met die Universiteit van die Vrystaat bedien en ontwikkel ons gemeenskappe en ek glo as ons dit saam kan doen, is ons deel soveel makliker.”

PIERCE VAN HEERDEN 
pierce@mahareng.co.za