Stadsjapie met ‘n boerehart

0
341
Jeandré Spies (10)

In die hoop om ‘n voorbeeld te stel, het Stadsjapie (10) van Bloemfontein begin om kolle in Universitas waar die gras lank is en niemand uitkom om dit te sny nie, self met ‘n handsnymasjien wat sy pa, Pieter Spies, vir hom gehuur het, ingespring en begin sny.
Jeandré vertel dat hy nie in ‘n vuil stad waar rommel oral rondlê, met gras wat lank is, wil woon nie. Dit is onaanvaarbaar vir hom en hy sal alles doen wat hy kan om die stad ‘n beter en mooier plek te maak.

Jeandré Spies (10) van Bloemfontein sny die gras in Universitas

“Ek hou baie daarvan om te bou en goed te maak. Een van my drome is om te spaar sodat ek vir my een van daai trekkergrassnyers kan kry en nie my handmasjien hoef te gebruik nie.”

Jandré het aan Bloemfontein Courant gesê dit het hom sowat twee uur geneem om die gras op die middelman in Van Schalkwykstraat te sny. Dit is vir hom en sy gesin belangrik dat die stad skoon en mooi is te alle tye. Pieter verduidelik, “Dit is ook ons plig om ons kinders te leer dat ‘n mens ‘n verantwoordelikheid het om jou omgewing mooi en netjies te hou. As elkeen kan sorg dat dit voor sy huis skoon en netjies is, gaan ons mos ‘n mooi omgewing hê, tot ons almal se voordeel.”

Grassny is nie al waarmee Jeandré hom besig hou nie. Hy het genoeg geld gespaar en vir hom ‘n sirkelsaag en boor gekoop waarmee hy nou met die hulp van Pinterest planne maak vir alles wat hy wil maak. Die flukse jongman sê as hy klaar is met skool sou hy baie graag wou boer of bou. Intussen maak hy solank artikels uit hout vir hul huis. Tot duver het hy vir sy gesin ‘n groentetuin begin, ‘n vuurmaakplekkie gebou waaroor sy sussie baie bly is omdat hulle nou en dan malvalekkers daar kan braai, ‘n boom gesnoei en ‘n hok aanmekaargesit vir hul hasies. Dié entrepreneur het nog baie planne vir hierdie vakansie.

SAZLY HARTZENBERG
sazly@centralmediagroup.co.za