Staatsamptenare kan vroeër aftree

0
470

Staatsamptenare kan van ouderdom 60 af aftree sonder dat daar enige pensioenboetes sal geld.

Daar word egter ook voorsiening gemaak dat staatsamptenare reeds vanaf ouderdom 55 op vervroegde pensioen kan gaan. Indien staatsamptenare egter tussen ouderdom 55 tot 60 vervroegde pensioen neem, sal daar ‘n pensioenboete ter sprake wees, wat hulle aftreevoordele sal verminder.

Met dié boete kan die regering in ‘n mate sy belegging in staatsamptenare beskerm en hul kundigheid tot ten minste ouderdom 60 behou. Vir ‘n geruime tyd reeds het die Suid-Afrikaanse staatsdiens te groot begin word. Dit is lomp en dienslewering is nie na wense nie, en dit het doodeenvoudig ‘n groot gat geword waarin miljarde van belastingbetalers se gelde verdwyn het.

Verder groei die ekonomie nie, inteendeel in baie sektore is daar ‘n inkrimping. Tog het die staatsdiens al hoe groter bly word. Dit is nodig om die staatsdiens meer vaartbelyn en meer effektief te maak en ‘n goeie beginpunt is om dit kleiner te maak.

Gevolglik het Tito Mboweni, Minister van Finansies, tydens sy begrotingsrede in Februarie 2019 genoemde probleme met die staatsdiens erken en maatreëls bekend gemaak van hoe daar bespaar gaan word op die staatsdiens se salarisrekening van staatsamptenare.
Of daar ‘n deeglike herstrukturering van die staatsdiens gaan kom, en wat die omvang daarvan gaan wees, weet niemand nie. Ek betwyfel egter ‘n deeglike herstrukturering, gegewe die invloed wat vakbonde in die staatsdienskringe het.

Vir nou eers, gaan staatsamptenare toegelaat word om te kan aansoek doen vir vervroegde aftrede, sonder om gepenaliseer te word. Indien jy dus tussen die ouderdom van 55 tot 60 is kan jy aansoek doen vir die spesiale vergunning, ten opsigte van vevroegde aftrede.

Let wel, dit beteken nie dat indien jy aansoek doen vir die vervroegde aftrede, dit outomaties goedgekeur sal word nie. Jy sal steeds moet voldoen aan sekere kriteria soos gestel deur jou departement. Maak ook seker jy kry jou aansoek betyds in, aangesien die afsnydatum 30 September 2019 is.

Behalwe vir die “vervroegdeaftrede-opsie”, is daar ook ander finansiële beplanningsimplikasies en belegging beplanningsimplikasies wat jy in ag sal moet neem. Jy tree nou vroeër af, met ander woorde, jy gaan vir meer jare afgetree wees.

Gaan jy voldoende aftreekapitaal hê? Moet jy met ‘n staatspensioenfonds aftree of moet jy eerder die roete van ‘n private pensioen gaan, en ‘n annuïteit by ‘n versekeraar gaan aankoop?

Maak dus seker jy kry voldoende finansiële advies van ‘n betroubare finansiële beplanner voordat jy jou keuses uitoefen. – Horace Terry
horace@nassaux.com