Staatmaker-Cheetahs kan sege verseker

0
671

Die Toyota Cheetahs se afrigters moet die 2013-rugyspan gebruik as wegwyser om die nuwe Superrugby-seisoen Saterdag om 17:05 met ’n sege teen die Leeus in die Vrystaat-stadion in te lui.

Naka Drotské en sy mede-besluitnemers sal geen fout begaan as hulle die kern van verlede jaar se span behou om hul 2014-veldtog mee af te skop nie. Die Cheetahs het immers tien van hul 16 wedstryde verlede jaar gewen en met hul sesde plek vir die uitspeelrondte gekwalifiseer.

Daar word hoë verwagting aan die Toyota Cheetahs in 2014 gestel nie net deur hul eie afrigtingspan en ondersteuners nie, maar ook deur hul teenstanders. Die teenstanders weet dat Adriaan Strauss se trop nie katjies is wat sonder handskoene aangepak kan word nie. Daarom gaan die aanslag van die ander spanne in Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland feller as ooit wees.

Deur die kern van verlede jaar se span te behou en nuwelinge soos Shaun Venter, Jean Cook en Maks van Dyk asook ’n talentvolle speler soos Johan Goosen, wat lank op die krukkerlys was, stelselmatig in te trek, kan die Cheetahs selfs hoër hoogtes as in 2013 bereik

Die Leeus is op die oog af een van die swakker spanne in die Superrugbyreeks, maar dit sal ’n groot fout wees om hulle te onderskat. Opwarmings-wedstryde is geen ware maatstaf nie en hul afrigter Johan Ackermann het sy spanne teen die Bulle, Southern Kings en Haaie so geskommel wat daar nie werklik gevolgtrekkings oor hul vermoë gemaak kan word nie.

’n Goeie sege vir die Cheetahs is van die uiterste belang want daarna dit wag die Bulle in Bloemfontein en dan oorsee die Rebels, Reds, Hurricanes en Blues.

’n Moontlike Toyota Cheetah-span is: Willie le Roux; Cornal Hendricks, Johann Sadie, Francois Venter, Raymond Rhule; Elgar Watts, Sarel Pretorius; Philip van der Walt, Lappies Labuschagne, Boom Prinsloo, Lood de Jager, Francois Uys, Coenie Oosthuizen, Adriaan Strauss en Trevor Nyakane.

georg@centralmediagroup.co.za